Ons het die volgende kampe in ons Buurlande besoek en sal hopelik hierdie afdeling verder uitbrei in die toekoms. Let daarop dat ons met 'n 4X2 bakkie reis. Ons gebruik wel die "difflock" soms en ry ook heelwat hulpmiddels saam om ons uit moontike vassit of vasval situasies te red.

Waar ons moeilik gery het, meld ons dit, maar andersins sal 'n bakkie met 'n "difflock" en goeie grondvryhoogte wel by hierdie kampe uitkom.


MOZAMBIQUE

SUNSET BEACH LODGE

Ons laaste besoek  -  2012

Die oord is net suid van die Inhambane provinsiale grens, by Praia de Chdenquela, en so 5Km vanaf die EN1 hoofpad op 'ngangbare sandpad. Ons het nie ons "difflock" nodig gehad nie en ook nie wiele afgeblaas nie - dit was nie nodig nie. 'n Gewone gesinsmotor met redelike grondvryhoogte sal hier uitkom.

Daar is 'n duin tussen die see en die kamp, terwyl die kantore, kroeg, restaurant, helderblou swembad en trippeldek ontspanarea bo-op die duin is, met pragtige uitsig.

Daar is so sewe staanplekke, elk met 'n eie badkamer en dan nog vier staanplekke wat onderdak is, met 'n gemeenskaplike badkamer bestaande uit twee storte en toilette.   Die onderdak staanplekke is  redelik  groot en absoluut gelyk, maar het 'n stutpaal in die middel en jou voertuig kan nie daar kom nie.   Dus geskik vir kleiner tente.

Die privaat staanplekke is redelik klein en baie ongelyk.    Daar is net 'n paar waarop ons 5-mantent met ekstensie kon op inpas.   Maak seker dat jy tydens jou bespreking daar meld hoe groot spasie jy benodig.

Die privaat badkamers het 'n sementvloer, net een haak agter die deur, geen seepbakkies of neersit rak nie, maar wel 'n stort  met gordyn, klein wasbak en spoeltoilet.   Buite is 'n skottergoedwasbak en braai.   Daar is heeldag 220v krag beskikbaar, maar geen buite krane of wasgoedwas area nie.

Die staanplekke is grasbedek, het redelik skaduwee en was almal netjies tydens ons besoek.   Daar was wel Blou-ape, maar hulle het nie gepla nie.

Die kompleks toon tekens van verval en veral sommige van die huisies het aandaag nodig.   'n Nuwe bestuurder het kort voor ons besoek oorgeneem (Danie) en dinge sal hopelik verbeter.

Die kroeg/restaurant area is pragtig en die diens flink en vriendelik.   Ons het aandete en ontbyt hier geniet en dit as goeie waarde vir geld beskou.

Ons sal weer hier kamp en beveel dit ook aan.

Kliek hier vir Sunset fotos

Webwerf  -  www.sunsetbeachlodge.com


 

 

 

 

ZAVORA LODGE  MOZAMBIQUE

Laaste besoek  -  2012

Die afdraai is 'n paar kilometer noord van Inharrime in die suide van die Imhambane provinsie.   Die 17km sandpad was in 'n goeie toestand en 'n gewone sedan met breer bande en goeie grondvryhoogte kan gemaklik hier kom.   Daar is 'n hele klomp staanplekke agter die duin en dan ook 'n kamparea bo-op die duin, met 'n pragtige uitsig.   Die ontvangsdame het ons verseker dat net  4x4 voertuie op die duin kan kom, maar ons het gemaklik opgery met pap bande en difflock aan.   Hulle het 'n kompressor om weer jou wiele te pomp voor jy vertrek.

Die eerste klompie staanplekke agter die duin is op sand, maar het darem skaduwee.   Hierdie gedeelte maak glad nie 'n goeie indruk nie.   Daar staan ou voertuie en bote rond, die ablusieblok is totaal onaanvaarbaar en ons sal beslis nie hier kamp nie.

Daar is 'n tweede gedeelte agter die duin, wat tans nie in gebruik is nie.   Hierdie gedeelte het gelyk grasstaanplekke en sewe het privaatbadkamers.   Die verval hier is opvallend en meeste fasiliteite nie bruikbaar nie.   Dit is 'n groot jammerte, aangesien hierdie beslis die beste deel van die kamp is.

Die kantoorkompleks maak ook glad nie 'n goeie indruk nie, maar die kroeg- en restaurant area is skoon en netjies en ons ontbyt daar baie goed.   Die kelners praat Engels en kommunikasie  is dus maklik.

Die boonste staanplekke is op diep duinesand en ons het hier vasgeval toe ons die bakkie gedraai het.   Die area is gelyk en daar is 'n paar dennebome aan die seekant.   Hier is klein Baracca (lapa) vir elke staanplek, twee krane en twee ablusieblokkies elk met een stort en toilet vir mans en dames.   Ons moes drie keer gaan kla oor warmwater wat nie beskikbaar was nie.   Die ablusies is boskamp tipes, nie van die beste nie, maar was redelik skoon.   Ons was ook twee oggende sonder water en kon die laaste dag nie stort nie.

Die wind hier sal jou roer - maak jou tent goed vas.   Die barraca (lapa) waarby ons die eerste nag gekamp het, het die volgende dag totaal in duie gestort.   Ons het gelukkig douvoordag weggeskuif nadaat ons die gekraak en gebreek vroegoggend gehoor het.

Ons sou in Suid Afrika beslis nie hier gekamp het nie, maar in Mozambique is standaarde bietjie anders en ons het ons verblyf van twee tot vier nagte verleng, aangesien ons as gevolg van die weer nie die eerste twee dae kon snorkel nie.

Kliek hier vir Zavora fotos

Webwerf  -  www.zavoralodge.com


 

 

PALM  GROVE  LODGE  -  Inhambane,  MOZAMBIQUE

Ons laaste besoek  -  2012

Ons wyk hier af van ons norm.   Hierdie lodge het nie kampering beskikbaar nie, maar slegs selfsorg huise (casas en casitas.)   Ons sluit dit egter in omdat ons geen aanvaarbare kampeerplek in Tofo  of Inhambane kon vind nie.

Jy ry deur Inhambane en neem die Tofo pad, draai dan uit na Praia de Barra en volg die aanwysingsborde.

Dit is 'n pragtige ontwikkeling, reg op die Barra strand.   Die houthuise is netjies, baie skoon en goed gemeubileer.   Die restaurant en swembad is reg langs die strand en ook prentjie mooi.   Die bediening hier was flink en vriendelik en die kos baie goeie waarde vir geld.

Die ontvangs was vriendelik en baie professioneel.   Hulle het regtig uit hulle pad gegaan om ons welkom te laat voel.   Die buiteseisoen prys van R200pppn sluit ook 'n stewige ontbyt in en werk dan niks duurder uit as kampering en ontbyt by ons vorige staanplekke nie.

Die interne paaie is meestal dik sand en terwyl jy maklik met 'n motor hier kan kom, en wel by sommige van die huise kan uitkom, moet jy dit in gedagte hou as jy bespreek.

Ons beveel die plek ten sterkste aan en sal waarskynlik weer hier oorbly oppad terug.

Webwerf -  www.palmgrovelodge.co.za

E-pos - panty@mweb.co.za

Tel - Retha:  00258 847 048 603

Kliek hier vir fotos


 

 

TOFO  BACKPACKERS  AND  CAMPING  -  Tofo   MOZAMBIQIE

Ons laaste besoek  -  2012

Gelee in Tofo reg by die strand.   Ons het nie, en sal ook nie - hier kamp nie. 

FATIMAS  LODGE  AND  CAMPING  -  Tofo   MOZAMBIQUE

Ons laaste besoek  -  2012

Gelee in Tofo reg by die strand.   Ons het nie - en sal ook nie - hier kamp nie. 

POMENE  LODGE  -  Pomene  MOZAMBIQUE

Ons laaste besoek  -  2012

Jy draai noord van Massinga af, kry eers Rio das Pedras en dan verder Pomene Lodge reg op die punt van 'n sand skiereiland.   Die oop see is aan jou regterkant en 'n vloedvlakte links met diep kanale, waar jy bote te water kan laat.

Die laaste 12km is diep, sagte sand en moet net met 'n hardebaard  4x4 aangepak word.

Die staanplekke is op sagte seesand wat alles binnedring en lag vir die tentpenne.   Jy kan met of sonder 'n barraca (lapa) kamp, maar moet liefs maar vir die barraca betaal.   Die ablusiegeriewe is baie, baie  "rustic" en glad nie na Tilla se sin nie, maar was redelik skoon.   Die donkie se water was lekker warm en die kraanwater drinkbaar.   Hulle gebruik 'n kragopwekker tussen 08.00hr en 12.00hr en dan weer van 16.00hr tot 22.00hr.   Jy kan net ligte koppel en geen items met elemente nie.

Die Lodge, kroeg en restaurant, asook die omgewing is pragtig - miskien ook een van daai moet sien plekke, maar twee aande se slaap het meer as R1,000 gekos.  (600 meticals park toegang)   Drie liter water en 'n pakkie ys het amper R80 gekos.   Dit is beslis nie waarde vir geld nie en ons sal nie weer hier kamp nie.

Kliek hier vir meer Pomene fotos

Webwerf  -  www.barraresorts.com/pomene-lodge-home-of-pomene 


 

 

BLUE  WATER   BEACH  RESORT  -  Vilankulo  MOZAMBIQUe

Ons laaste besoek  -  2012

Ons het nie - en sal ook nie -  hier kamp nie. 

BOABAB  BEACH  BACKPACKERS  &  CAMPING  -  Volankulo - MOZAMBIQUE

Ons laaste besoek  -  2012

Ons het nie - en sal ook nie - hier kamp nie. 

SETA  HOTEL  &  CAMPING  -  Inhassoro  MOZAMBIQUE

Laaste besoek  -  2012

Die kompleks is reg op die strand, met die kampplek net agter die restaurant.   Die staanplekke is groot, gelyk, goed afgemerk en sommige het reuse groot koeltebome.   Die ablusiegeriewe was skoon en netjies en van die beste wat ons hier aangetref het, maar die storthokkies is regtig klein.   Kragpunte, krane, braaiplekke en warm water was alles in plek en werkend.   Kragonderbrekings is maar algemeen in Mozambique en ook hier was dit vir 'n paar uur af.

Die dorpie self is maar klein, maar hier is brandstof beskikbaar, 'n klein supermark was vol basiese voorraad en die twee bakkerye heel gaaf.   Die strand en see hier is pragtig en 'n dhow rit oor na Paradise Island 'n moet.

Ons het lekker hier gestaan en sal dit weer besoek.

Kliek hier vir Seta Hotel fotos

Webwerf  -  www.inhassoro.org

Kliek hier vir Seta Hotel fotos

 

 

 

SYLVIA  SHOAL  -  Morrungulo  MOZAMBIQUE

Ons laaste besoek  -  2012

Ons het twee dae hier gekamp.   Die strand is pragtig en die staanplekke op gras.   Sommige het barracas en daar is ook baie palmbome wat skadu bied.   Die restaurant was gesluit gedurende die lae seisoen en die bier nie koud nie.   Hulle kragopwekker loop van 14.00hr tot 22.00hr.

Warmwater word in 'n donkie gemaak, maar ons moes die tweede aand self vuurmaak.   Die ablusiegeriewe is glad nie aanvaarbaar nie.   Dit is klein, vuil en donker.   Elke kant bestaan uit 2  wasbakke, 3 toilette en 3 storte.   Van die deure was af, krane het nie gewerk nie en daar is geen plek om iets op te  hang nie.   Jy moet al jou goed op 'n rakkie van so 40cm X 15cm in die gang los en ook daar uit- en aantrek.   Die mure en vloer was vuil en die verf dop orals af.

Dit is baie jammer dat die ablusiegeriewe so ver tekort skiet - die kamp is andersins netjies en maak 'n goeie indruk,   Die eienaar was nie teenwoordig nie en ons kon dus nie die probleme met hom bespreek nie.   Die tweespoor sandpad het nie vierwieldryf nodig nie.

Ons sal nie weer hier kamp tensy die ablusiegeriewe herbou word nie.

APRIL 2015

Ons het die onderstaande brief van Hester van Sylvie Shoal ontvang.  Ons was nog nie weer hier nie, en kan dus nie kommentaar lewer oor die verbeterings nie, maar dit is inderdaad baie goeie nuus om van 'n park te hoor wat verbeter word. 

Goeie more Flip en Tilla,

Eerstens wil ek onverskoning vra vir die uiters onaangename ondervinding wat jul gehad het, tydens jul kort besoek aan Sylvia Shoal en met dieselfde asem vreeslik dankie se vir jul eerlikke verslag op jul webtuiste, ek het geen probleem daarmee nie en verwelkom dit.  Ek het toevallig op jul webtuiste beland nadat ek na fotos gekyk het. 

Ons is die nuwe eienaars van Sylvia Shoal Vakansie Oord in Mosambiek en het die afgelope +- 18 maande die oord redelik opgeknap.  (Nog nie naastenby soos ons dit wil he, daar IS nog baie werk)

Eerstens het ons die kampeerarea gelyk begin maak en nog bome aangeplant, die gras is vinnig besig om terug te groei en ons glo en vertrou teen Desember sal dit al in ‘n baie beter toestand wees.  Die kampeerplekke is nog nie afgebaken nie, ons is self kampeerders en voel dat elke groep mense groot of klein genoeg beweegruimte moet he. 

Wat die amblusie blokke betref is die donkie vervang met gas geysers, albei amblusie blokke se mure en vloere is geverf en skoon, dun stort gordyne is vervang met dik tent seil wat soos ‘n stort gordyn toemaak en ingehak kan word vir meer privaatheid.  Al die toilette, storte en wasbakke is herstel, sowel as die toilet deure en meer hakplek en pakplek is aangebring.  Ons beplan om die amblusie blokke so gou as moontlik tot herbou, om eerlik te wees sal dit nie in 2015 gebeur nie, daar is net te veel herstel werk. Op hierdie oomblik is dit wat daar is, netjies, skoon en in 100% werkende toestand.

Die kragopwekker is ook herstel en ons voorsien op hierdie oomblik binne seisoen 12ure aaneenlopende krag per dag.  Omdat onsself oor die algemeen altyd in Desember in Mosambiek met vakansie was, het ons gevind dat die vrieskaste nie behoorlik vries as die krag in die oggende vanaf 7 tot 10 aan is en weer in die middae vanaf 14h00 tot 22h00.  Op die warmste gedeelte van die dag ontvries alles, daarom is Sylvia Shoal se krag aan vanaf 12h00 tot 24h00 of 10h00 tot 22h00 afhangende van die kampeerders -  maar niks minder as 12ure aaneenlopend per dag.  Dit gee almal se vrieskaste die geleentheid om ordentlik te vries.  Buite seisoen wanneer daar feitlik geen kampeerders is nie, probeer ons eerder om aan die enkele kampeerder ‘n kleiner kragopwekker te voorsien indien hul nie hul eie het.  Sou dit ‘n groep van 6+ wees, regverdig dit in ‘n mate die kostes en skakel ons wel die groot kragopwekker aan. 

Die Restaurant en Chalets het ook aandag geniet.  Al die linne, breekgoed, potte, panne & eetgerei in die Chalets is vervang, dakke herstel, mure en vloere is geverf - dit lyk sommer tonne beter.  In die Restaurant en Kroeg is al die breekgoed en eetgerei vervang, toilette is herstel en opgeknap.

As ons gelukkig is en betyds die lisensies kry, behoort die nuwe Duik Sentrum en Kantoor/Ontvangs area wat in aanbou is teen Desember 2015 in volle gang te wees. 

Ek wil jul graag uitnooi om wanneer jul weer moontlik in die Inhambane omgewing,  asseblief weer ‘n tydjie by Sylvia Shoal Vakansie Oord deur te bring, en asseblief jul eerlikke opinie aan ons te stuur. 

Kliek hie vir Sylvia Shoal fotos

Webwerf  -  www.mozambique1.com




BONITO  BAY  RESORT  -  Morrungulo  MOZAMBIQUE

Laaste besoek  -  2012

Hierdie oord het nie kampplek as sulks nie, maar het barracas met 'n slaapkamer wat teen dieselfde tarief as staanplekke verhuur word.   Dit is byna soos 'n klein karavaan en tent.   Almal gebruik 'n gemeenskaplike ablusieblok.

Dit is baie moeilik om op te som - dit is by verre die beste kampterrein en ablusies wat ons in Mozambique teegekom het.   Hierdie oord is gelykstaande, indien nie beter nie, as 4-ster plekke in Suid Afrika.

Die terrein is op duine uitgele met 'n pragtige see-uitsig.   Die hele area is grasbedek en gelyk, met geboude voetpaadjies tussen geboue.   Die kroeg/restaurant/swembad-area is prentjie mooi en ten spyte daarvan dat  daar net een barraca beset was, was alles skoon, netjies en reg.   Ons het heerlik daar ge-eet en yskoue bier gedrink.

Ons plaas 'n paar foto's, want dit spreek beter as hierdie gehakkel.

Webwerf  -  www.bonitobay.co.za

 

 

HONEYPOT  OVERNIGHT  ACCOMMODATION - XaiXai - MOZAMBIQUE

Laaste besoek  -  2012

'n Heerlike groen oase net suid van XaiXai op die EN1.   Hulle het 4 staanplekke op pragtige groen gras, met gedeeltelike skaduwee.   Die staanplekke is goed afgemerk, redelik gelyk en groot genoeg vir 'n oornagkamp.   Die kamp is omhein  en het 24/7 gewapende wagte by die ingang en ook in die kamp.   Al die staanplekke het 220v krag - 24/7.   Die eienaars bedryf ook die aangrensende saagmeule en verskaf afvalhout gratis vir vuurmaak.   Die personeel by die hek, ontvangs, restaurant en die interne wag praat Engels.

Die ablusies was silwerskoon, netjies en alles in werkende toestand.   Die restaurant is net soggens oop vir ontbyt en saans vir aandete.   Dit was regtig skoon, netjies en pragtig gemeubileer.   Die bediening was flink en die ete goeie waarde vir geld.

Hulle het ook houthutjies met slaapplek vir twee tot vier persone, asook 'n paar gesinshuise.   Die groter hutjies het hul eie badkamers, yskas, 2-plaat gasstofie, elekrtiese ketel en die nodige eetgerei.

Ons was lui en het in een van die groter hutjies oorgebly.

Die hele terrein is netjies, mooi ontwikkel en net 'n plesier om te besoek.

Ons sal beslis weer hier oorbly en beveel dit sterk aan.

Webwerf  -  www.honeypots.co.za

Kliek hier vir al die Honeypot fotos

 

 

CAMPISMO  ALBUFEIRA - Parque Nacional Do Limpopo  MOZAMBIQUE

Ons laaste -  2012

Die kamp is 'n klipgooi van die Massingishek en baie naby die hoofpad deur die kamp.   Die hek is gesluit van 18.00hr tot  06.00hr.   Dit is tipiese Mopanie bosveld en baie stowwerig.   Die staanplekkies is baie ongelyk, klein en swak uitgele.   Daar is net elektrisiteit by die huisies, ablusieblok en kombuis.   Staanplekke 1 en 8 is naby die ablusies en met 'n lang koord (30meter) sal jy kan inprop.

Die ablusies is maar baie basies, maar was redelik skoon en die water warm.   Die kombuieie het twee dubbel opwasbakke en 'n yskas, wat se draad te kort is om by die prop by te kom.   Bring 'n ekstra een as jy dit wilaanskakel.

Jy kan beslis nie 'n woonwa op die staanplekke parkeer nie en die goegangspaaie is ook te sleg vir 'n gewone woonwa - bring jou boswa sonder tent.   Ons 5-man tent kon ons net op staanplek 1 opslaan.

Dit is nie 'n kampplek wat ons gewoonweg sou besoek nie en sal dit ook in die toekoms vermy.

Kliek hier vir meer fotos van die area

 

 SETA HOTEL & CAMPING (iNHASSORO)

Ons laaste besoek - 2012

Kommentaar:  

SWAZILAND

NDLOVO KAMP IN HLANE ROYAL NATIONAL PARK

Ons laaste besoek  -  2012

Die kamp is in die reservaat, 'n paar honderd meter vanaf die pad na Mosambiek.  Die ingang lyk goed en die personeel aan diens is vriendelik en hulpvaardig.  Dit was dan ook so met al die werkers wat ons teegekom het.

Die ontvangsarea is indrukwekkend, skoon, netjies en goed beman.  Die restaurant en kroeg is ook net so goed versorg en die bediening baie goed.  Ons het aandete daar geniet. Dit was goeie kwaliteit, goed voorbery en ook goed en netjies bedien.

Die kampeerarea is redelik groot, maar geen staanplekke is afgemerk nie. Jy word bloot gevra om by 'n geboude braai te kamp - jy mag net daar vuurmaal.

Die skadubome is maar yl in die winter en die gras wat daar is, dood in die winter - sal beslis beter lyk in die somer. Stof is maar jou voorland in die winter. Daar is twee ablusieblokke, waarvan net een oop was - ons was die enigste kampeerders en die tweede nag het nog een paartjie daar oorgebly. 'n Hele paar van die huisies was in gebruik.  Die ablusies is besonder netjies en was silverskoon gehou, ten spyte van die stof. Warmwater word in 'n donkie gemaak.  Reuse vure sorg dat die water baie warm bly.

Daar is geen krag beskikbaar in die kamp nie, en snags is dit diepdonker - te lekker geslaap. Die verkeer neem ook byna heeltemal af in die aand en was nie steurend nie.

Daar is 'n watergat net buite die kampeerterrein, met slegs twee slap doringdrade om die  diere uit te hou.  Die vlakvarke en rooibokke kruip onder deur en loop in die kamp rond. Olifante, renosters en seekoeie besoek die watergat gereeld.  Dit is baie mooi en ons was net enkele meters van die olifanttroppie, met die bul wat duidelik  sy misnoee te kenne gegee het.  Die een renoster was ook duidelik onvriendelik.  Dit was 'n belewenis vir ons, maar kan maklik in 'n tragedie ontaard as mens nie weet hoe om naby wilde diere op te tree nie.  Hou asseblief kinders weg van daardie area en bly self ook weg as jy onkundig is.

Ons het ons twee nag kamp hier geniet en sal beslis weer hier kamp.

Kliek hier vir meer Royal Nat. Park fotos

Webwerf - www.swazitravel/hlane_royal_national_park


 

 

NISELA SAFARI'S

Laaste besoek  -  2012

Die oord is net noord van die Golela grenspos tussen KZN en Swaziland. Die karavaanpark is netjies, goed uitgele, het krag, waterpunte, skaduwee, pragtige ablusiegeriewe en 'n werklik voortreflike restaurant.

Die geskenke winkel is baie netjies en het baie voorraad. Die hele perseel en al die geriewe was silverskoon en alles in 'n goeie werkende toestand tydens ons besoek.  Die personeel was ook vriendelik en hulpvaardig.

Die perfekte kamp? Amper.  Dit is reg teen die hoofpad na Big Bend, Hlane Royal National Park, die Namaacha grenspos na Mozambique of die

Mananga grenspos na Komatipoort.  Dus 'n besige hoofpad en die padgeraas werklik steurend.  As dit jou nie uit die slaap sal hou nie, is dit die park vir jou.  Ons het liewer verbygehou. 



NAMIBIA


AUS

LITTLE AUS VISTA/WILD HORSES CAMPING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die kamp is ver van alles en almal en beslis een van die beter boskampe.  Die staanplekke is mooi gelyk,  is ver van mekaar en het elkeen ‘n boom, braai en kraan.  Daar is ook ‘n windbreek by elke staanplek.

Die ablusieblok is redelik ver van sommige staanplekke – daar is ‘n rypad soontoe. Dit was skoon en netjies en alles het gewerk.  Jy stook die donkie en dan kan jy stort, skeer, klere en skottelgoed was.

Hulle bou ‘n nuwe spoorlyn oor die ingangspad op die oomblk en toegang is dus bietjie deurmekaar – kry aanwysings by die kantoor.  Jou GPS gaan verdwaal.

Ons het ongelukkig nie hier gekamp nie, hulle was besig om die windskerms mer kreosout te verf, ‘n goeie resep vir hooikoors.  Ons was regtig jammer om verder te ry.

Punt toegeken  -  6/10 (Boskamp)

Kliek hier vir Wild Horse fotos

Webwerf  -  www.kleinausvistanamibdeserthorseadventures.wheretoatay.na

AUS

NAMIB GARAGE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die garage en winkel is aan die noorde kant van die straat en die klein kampterrein oorkant die pad.  Die area is taamlik gelyk en die ablusies net net aanvaarbaar.  Ons het nie hier gekamp nie en sal ook eerder by die Klein Aus Vista se Wild Horses Campsite in hierdie area oorbly.

Punt toegeken  -  3/10

Kliek hier vir Namob Garage fotos

BETTA

BETTA CAMPING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie is ook nie ‘n dorpie nie, maar ‘n groot plaas met ‘n vulstasie, die kampplek en ‘n eetplekkie.   Dit is ook in die middel van nerens, maar aan die einde van die veelgeroemde D707 pad.  Hier die pad was die slegste wat ons in meer as 2,500 Km in Namibie teegekom het en die kampplek ‘n blye gesig.  Ons sou enige plek aanvaar het, maar was aangenaam verras.

Die staanplekke is op gelyk gruis, elk met ‘n boma,  bedekte parkeerplek vir jou voertuig, braai, skottelgoedwasbak en 220 lig.  Hier is normale 15A proppe, maar jy kan niks met elemente gebruik nie, hulle gebruik sonpanele en “inverters”.  Jou motorafdak se dak dien ook as ‘n lekker  uitkykpunt oor doe plaas.

Die ablusie geriewe is beslis die beste wat ons nog in Namibie teegekom het.   Dit is geteel met nuwe toilette, storte en wasbakke.  Daar is mooi gordyntjies, ‘n blommetjie,Handdoek en handeseep aan elke kant.  Die storte is lekker groot, gordyne beskerm die aantrek plek, maar ongelukkig net twee klein hakkies agter die deur.  Daar is darem ‘n voetstoeltjie vir neersit plek.   Alles is regtig skitterblink en skoon.

Mens oornag regtig lekker hier en ons kan dan ook die plek aanbeveel.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Betta fotos

Webwerf  -  www.bettacamp.net


GOTCHA/MATA MATA

TERRA ROUGE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die eerste kamp wat ons in Namibie besoek en wat ‘n verrassing.  Ons is wyd en suid beduie dat ons nie ons standaard kampe in Namibie sal vind nie en het ons maar op die ergste voorberei.  

Die pad van Mata Mata is in ‘n beter toestand as baie RSA teerpaaie,  die afdraai na die kamp is goed gemerk en die toegangspad eersteklas.  Hanli ontvang ons met ope arms en beduie ons na die kampterrein, sowat 800m van die opstal.  Die pad is weereens baie goed en die hek na die kampterrein effe ongewoon (kyk na die fotos op ons Picasa Albums).  Die terrein is skoon en netjies en hoewel die staanplekke nie afgemerk is nie,  is dit dadelik duidelik waar jy kan staan.  Elke staanplek is onder reuse kameeldoringbome,  het ‘n braai,  wasbak en aparte kraan.  Die staanplekke is redelik gelyk en vergenoeg dat jou buurman jou nie sal pla nie.  Die hele kampgebied is omhein, maar die mis dui tog op nagtelike besoekers van die wildsbok soort.  

Die ablusie geriewe is tipies boskamp met twee storte en twee spoeltoilette.  Alles is van sparre gebou met skadudoek op die kritieke plekke om privaatheid te verseker.  Die storte en wasbakke kry warmwater van ‘n baie effektiewe donkie, wat jy sommer self stook as jy warmwater benodig.  Daar was oorgenoeg hout beskikbaar  en ons het nooit ‘n tekort aan warmwater gehad nie.  Al hierdie geriewe was skoon en netjies.  Baie klein LED liggies is aangebring,  maar bring liefs jou eie as jy jou tone wil sien. Jy moet ook jou eie toilet papier voorsien.

Hier is ook ‘n 1,000 Ha wildskamp waar jy vrylik kan rondloop.  Ons het baie springbokke, elande, gemsbokke en twee kameelperde raakgeloop.   Die area is baie groot en bestaan uit golfduine met baie driedoring  in die strate tussen die duine.  Goeie stapstewels en denimbroeke werk goed as jy nie net in die bakkiespore wil stap nie.

Ons het baie lekker hier gekuier  en beveel die plek sterk aan as jy van die Mata Mata grenspos gebruik maak.  As jy ‘n veldmens is, kan hierdie ook ‘n goeie eindbestemming wees.

Punt toegeken  -  7/10  (Boskamp sonder elektrisiteit)

Kliek hier vir Terra Rouge fotos

Webwerf  -  www.eset.co


GRUNAU

DIE WITHUIS GASTE PLAAS/ THE WHITE HOUSE Guest Farm

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  - Dolf in Kinna de Wet ( geen familie nie) is die perfekte paartjie om in die gastebedryf doenig te wees.  Hulle maak dan ook hierdie plek.  Ons was baie hartlik ontvang en die gesels het eenvoudig gevloei.  Ons het ook sommer met die instap een van hulle etes bestel.  Die is op die vooraf bepaalde tyd by ons tent afgelewer.  Die kos word in bakke opgeskep, in 'n houer gesit en dan goed in komberse toegedraai.  Dit kom geurig, vars en warm by jou uit, te heerlik.  Net hierdie ete alleen is genoeg rede om hier te kamp.

Die kampeerarea, asook Die Withuis, is so drie kilometer van die plaasopstal af.  Die grondpad van die hoofweg af, was in 'n baie goeie toestand en lekker breed - twee voertuie kan maklik by mekaar verbygaan.

Die plaaspad van die woonhuis na die kampeerarea was ook in 'n goeie toestand, maar redelik nou.  Ry versigtig en stadig oor die dwarswalle wat die reenwater wegvoer.  Ons het terloops gevind dat dit beter is om jou bande net 1.8 bar te pomp in Namibie - Hard genoeg vir die min teerpaaie en lekker sag vir die grondpaaie en sandspore waarin jy baie ry.

Die kamp is so iets tussen 'n boskamp en gewone kamp.  Jy is ver van die plaashuis en teerpad, maar naby die Withuis en  3 chalets/huisies - jy het dus kontak met die mede oorblyers, wat van reg oor die wereld kom.  Gesels en kuier is hier die wagwoord.

Die kampplekke het elk 'n klein windskuiling, 'n boom of afdakkie, braai, lig en gewone 15A muurprop.  Dit is redelik gelyk, maar meer bedoel vir tente en boswaens as vir gewone teerpadkaravane.  Jy sal wel 'n kleiner karavaan hier kry, maar ons Penta sal beslis sleep op sommige van die dwarswalle.  Dolf is 'n baie praktiese ou en as jy vooraf met hom reel, is ek seker hy sal 'n plan kan maak om jou te help, as jy met 'n gewone karavaan daar wil oorbly.  Ons het gevind dat as jy afhaak, die neus laag laat sak en dan die karavaan met 'n tou oorsleep, kan jy dwarswalle baasraak.

Die ablusiegeriewe bestaan uit twee badkamers, elk met 'n stort, wasbak en toilet.  Witgoud, handdoeke, sneesdoekies, handeseep en lugvervrisser word voorsien.  Namkrag voorsien die krag, wat stabiel was tydens ons besoek en die installasie het ook reg getoets op ons meters.  Warm water van 'n elektriese geyser was voldoende.  Die badkamers was skoon en netjies en alles het goed gewerk.  Die deure het bietjie gesleep, maar Dolf het ons verseker hy sal dit regstel.

Baie kampeerders bly hier in die huis of huisies oor vir die nag as hulle verder wil gaan die volgende dag - nie te duur nie.

As jy bel om te bespreek, reel ook sommer vir 'n ete, dit is 'n belewenis wat jy nie moet misloop nie.  Kies tussen skaap- hoender- of wildsvleis.

Ons het baie lekker hier gekamp en sal beslis weer hier oorbly.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.withuis.iway.na

E-Pos  -  withuis@iway.na

Kliek hier vir Die Withuis fotos

HELMERINGSHAUSSEN

HELMERINGSHAUSSEN HOTEL

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hier is nie werklik ‘n dorpie nie – die plek bestaan uit die hotel, ‘n goedgestokte winkel met brandstof en vier huise, in die middel van nerens.  Ons het nie hier gekamp nie, maar baie lekker by die hotel  ge-eet.

Die staanplekke is teen die kant van die hotel met ‘n klein ablusieblok in die middel – alles baie netjies en skoon.   Daar is twee vertrekke, elk met ‘n bad, stort, toilet en wasbak.  Daar was niemand in die kamp nie, maar hulle was besig om weer te was en te stof – regtig netjies.

Die staanplekke is op gruis met ‘n braai, sitplek, en afdakkie.  Meeste is teen die pad, maar verkeer hier is ‘n rariteit.  Ons het so ‘n uur en ‘n half hier  gekuier en geen voertuie het verbygekom nie.

Hier is werklik niks om te doen of sien nie, en is net ‘n oornag plek as jy moeg gery is.

Punt toegeken  -  4/10

Webwerf  -  www.helmeringhausennamibia.com

Kliek hier vir Helmeringhausen fotos

KARASBURG

AI-AIS WARMBRON

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die oord le binne die Visrivier Canyon en hoewel die toegangspad redelik styl is kan ‘n gewone sedanmotor wel hier uitkom.  Maak net seker van verspoelings gedurende die reenseisoen.  Ons sal nooit ‘n gewone woonwa hierheen sleep nie, maar boswaens en boskaravane is koning.

Dit is ‘n groot oord met baie staanplekke, woonstelle en luukse huise.  Die kampplek le in die vorm van ‘n ovaal rondom ‘n redelik groot grasperk, met 3 ablusieblokke en twee kombuiseenhede binne die grasarea.  Jy is nooit te ver van ‘n ablusieblok nie.  Daar is ook staanplekke naby die swembad, maar net kragpunte in vol son.  As jy hier wil kamp, moet jou elektriesekoord byna 40m lank wees, as jy onder die bome wil staan.  Alle kragpunte gebruik gewone 3 punt proppe.

Die area is redelik gelyk, maar ons moes ons bakkie op die geelblokke staanmaak om dit heeltemal gelyk te kry.  Elke staanplek het ‘n braai,lig en twee staanplekke deel ‘n kraan.  Daar is ‘n paar skadubome, maar hierdie word vroegoggend opgeraap.

Die ablusieblokke is netjies en skoon en by elkeen is ‘n skoonmaker die hele dag om dit so te hou.  Daar is net een stort aan elke kant, drie toilette en drie wasbakke.  Warmwater was nie ‘n probleem tydens ons tweedag besoek nie.  Daar is pakplek by die ingang, maar die storte en toilette is nie so gelukkig nie. Meen maar min paksels saam as jy gaan stort.

Die kombuisblokke het elk drie skottelgoedwasbakke, twee stowe en ‘n wasbalie.  Daar is ook afgesperde wasgoeddrade by hierdie fasiliteite.

Die kantoorpersoneel was vriendelik en behulpsaam en so ook die klein winkeltjie.  Die heel nodigste word aangehou, maar bring liefs saam wat jy gaan nodig kry – dis bitter ver winkel toe.

Selfoonontvangs is puik, maar ons kon nie ons rekenaars koppel nie.  Weet nie of dit ‘n eenmalige probleen was nie, die ontvangsdame kon nie ons navraag so lekker verstaan nie.

Die restaurant lyk pragtig, maar ons het nie daar ge-eet nie.

Ons kan die kampeerplek aanbeveel.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Ai Ais Warmbronne fotos

Webwerf  -  www.aiaishotspringresort.wheretostay.na

KEETMANSHOOP

MESOSAURUS FOSIEL KAMP

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die boskamp is omtrent 4Km van die hoofpad af.  Net bakkies en viertrekvoertuie kan daar kom.   Die kamp is regtig rof en ons sal nie hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.mesosaurus.com

Kliek hier vir Mesosaurus fotos


KEETMANSHOOP

MARITZ  COUNTRY  LODGE

Kommentaar  -  Die oord is agter ‘n besige vulstasie so 3Km buite die dorp.  Baie vragmotors stop hier (jy ry verby hulle parkeerarea).  Die geraasfaktor het ons afgesit en toe ons die toestand van die ablusies sien, het ons besluit om nie hier te kamp nie.
Punt toegeken  -  0/10

KEETMANSHOOP


QUIVERTREE  REST  CAMP

Kommentaar  -  Die oord is so 15Km buite die dorp op die pad na Koes, ‘n baie, baie klein dorpie.  Die kampeerarea is so 150m van die pad, maar die verkeer is so lig dat dit ons nie gepla het nie.
Dit is ‘n redelike groot en uitgestrekte kamppeerterrein op ‘n gelyk gruis oppervlakte.  Staanplekke is nie genommer nie,  jy besluit self waar jy wil staan.   Die kragpunte is bykans almal naby ‘n skaduboom, meeste het kliptafels, ‘n braai, kraan, lig en asdrom.
Daar is ‘n hele paar klein ablusieblokke en is sekerlik van die beste in hierdie omgewing. Toilette en storte is apart en daar is wasbakke in die toilet gedeelte.  Toilet papier word voorsien  en alles was mooi skoon tydens ons verblyf.  Beide die storte en toilette is ruim,  maar hangplek is skraps.  Die deure kan ook nie van binne sluit nie.  Warm water was altyd beskikbaar.
Ontvangs is by die woonhuis en ons was heel vriendelik ontvang.  Dit is ‘n werkende plaas en heelwat plaasimplemente staan by die huis rond.  Die rondawels is naby die huis, asook die swembad.  Hulle het twee jagluiperde wat daagliks om 16.00 gevoer word.
Jou kampeer fooi sluit ook toegang in na die kokerboomwoud agter die kampeerarea, asook Giant’s Playground so 5km in die hoofpad op.
Ons het lekker hier gekamp en kan die oord aanbeveel.
Punt toegeken  -  7/10
Webwerf  -  

KEETMANSHOOP

SCHUTZENHAUS LODGE

Laaste besoek  - 2013

Kommentaar  -  Ons het hier bespreek, maar toe ons op die ooreengekome tyd opdaag, kon ons niemand daar vind nie.  Ons het na die ablusies gaan kyk, en summier besluit om nie hier te kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

LUDERITZ

DIAS POINT CAMPSITE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie is net vir die hardebaard boskampeerders – ons het besluit om nie hier te kam p nie.

Dit le reg op die strand met ‘n pragtige see-uitsig.  Elke staanplek het ‘n braai en ‘n windskuiling van pale toue en nette.  Hulle is ver van mekaar en jy kan redelik privaat kamp by sommige.

Die ablusieblok is nie van die beste nie – jou boskaravaan sal beter doen hier.

Die kamp is so 20Km van Luderitz on ‘n grondpad wat in ‘n baie goeie toestand was tydens ons besoek.  Dit lyk asof die see somtyds oor die pad spoel – hou maar dop dop tydens springgety.

Daar is ‘n baie klein eetplekkie wat ons nie aangestaan het nie, en verder net mooi niks.

Punt toegeken  -   0/10

Kliek hier vir Dias Point fotos

KOES

KOES HOTEL

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

LUDERITZ

SHARK ISLAND CAMPING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die park is in Luderitz op ‘n klein skiereiland met water aan drie kante. Die wind kan en sal jou hier roer, maar ons het op staanplek 13 ‘n lekker beskutte staanplek gekry.  Die wind was nie ‘n probleem nie.

Die kampplekke is op terasse en redelik gelyk.  Meeste het ‘n braai en lig en so elke twee/drie het ‘n kraan.  Die uitsig op die boonste vlak het ‘n pragtige uitsig, onthou net dat die wind jou dan gewoonlik ook sien.

Die ablusies is maar so so, maar alles het gewerk en die water was die hele tyd warm.  Daar is twee storte, twee toilette, drie wasbakke en ‘n bad aan elke kant.  Daar is ook skottelgoed- en klerewasfasiliteite.  

Die hele area is gegruis en stof was nie ‘n probleem nie.  Die hekwag, wat ook jou betaling ontvang, is tot 18.00hr aan diens, waarna die hek oopstaan, met ‘n wag wat in die kamp rondloop.  Ons het nie van enige voorvalle hier gehoor nie, maar was tog versigtig.
Dit is so 3 Km na die Spar, waar jy proviant kan aanvul.
Ons het goed hier gekamp, maar sal nie die park onvoorwaardelik aanbeveel nie.


Punt toegeken  -  4/10


MARIENTAL

RIVER CHALETS

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hulle is besig met opgradering en ons was nie lus om op ‘n bouperseel te kamp nie.  Hulle was onder andere besig om ‘n nuwe ablusieblok te bou – hou die vordering dus dop.  Dit mag dalk ‘n besoek werd wees in die nabye toekoms.

Punt toegeken  -  NV



MARIENTAL

OPPI KOPPI CAMPING.

Kommentaar  -  Ons het nie vooraf gebel nie, en na 6Km op die plaaspad by ‘n gesluite hek uitgekom. Het maar omgedraai en Keetmanshoop toe gery.

Punt toegeken  -  NVT



 OKAHANDJA

GROSSE BARMEN HOT SPRINGS

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die oord is gesluit en moet blykbaar bykans heeltemal herbou word.  Ons glo nie dat dit voor 2014 heropen sal word nie.  Kontak hulle voor jy besluit om hierheen te ry.

Punt toegeken  - NVT

OKAHANDJA

KINGS HIGHWAY CAMPSITE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

ROSH PINAH

NAMUSKLUFT

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie is ‘n boskamp so 20 Km van Rosh Pinah op ‘n baie slegte plaaspad met redelike diep sand en ‘n paar slote.  Sedan voertuie mag dalk sukkel.

Die kamp in aan die voet van ‘n rand met baie aalwyne en kokerbome wat in die blom was tydens ons besoek – mooi prentjie.  Die staanplekke is klein maar redelik gelyk.  Almal het ‘n paaltjie windskerm, braai, kraan en lig wat net brand terwyl die kragopwekker loop.  Meeste het bietjie gras en ‘n doringboom.

Warm water kom van ‘n donkie, waarin  hulle vir jou die  vuur aanle – ons het oorgenoeg warm water gehad, maar die druk is laag – gebruik net een stort op ‘n slag.  Die ablusieblok is klein – twee spoeltoilette, drie wasbakke en een stort aan elke kant.  Dit was skoon en netjies tydens ons besoek. Die donkie was weer vroeg die volgende oggend gestook om warm water teen opstaantyd te lewer.

Daar is ‘n swembad en kort staproete beskikbaar, asook ‘n klein restaurant  by die ontvangs.  Jy kan ook hout koop, maar niks anders nie.

Ons het goed hier gekamp en kan die kampplek aanbeveel vir kampeerders wat gewoond is aan boskampe, en met ‘n bakkie of 4X4 ry.

Punt toegeken  -  6/10 (Boskamp)

Kliek hier vir Namuskloof fotos

OKAHANDJA

CAMP OMBONDE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die kamp is tydelik gesluit.  Die ontvangsdame was ongemaklik om ons vrae oor die her-opening al dan nie te be-antwoord. 

Kontak hulle voordat jy hierheen ry.

Punt roegeken  -  NVT

SESRIEM

SESRIEM KAMPEERING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie kamp is binne die Sossusvlei Natuurreservaat en word deur Namibia Wildlife Resorts bestuur.  Al die geskrifte wat ons gelees het se hier is net 12 staanplekke, jy moet lank voor die tyd bespreek en dit is baie duur. Alles nonsens.  Hier is nege en twintig  staanplekke, elk met ‘n skaduboom, braai, lig, kraan,  vuillisdromme en 15A prop.  Ons het vroegoggend hier opgedaag en geen probleem gehad om ‘n staanplek te kry nie.  Dit is ook goedkoper om binne die park te kamp, as die kamp by die vulstasie.

Staanplekke (en die paaie) is gegruis en redelik gelyk en baie groot.  Hulle is ver uitmekaar, maar dan is sommige bietjie ver  van die ablusieblokke.

Die ablusiegeriewe het hier en daar ‘n klein skeet, maar die grootste probleem is neersit plek.  Die storte is besonder groot  -  jy kan jou stoel saamvat vir pakplek.  Daar is handdoek reelings en ‘n stewige haak agter die deur , maar geen plek om hier of by die wasbakke iets neer te sit nie.  Witgoud word voorsien. ‘n Ander wesenlike probleem is die rioolreuk wat oor die kamp hang – ons ondervind dit by al die NWR parke.

Tussen die park se winkeltjie en die winkel by die vulstasie net buite die kamp, sal jy maklik jou koskas aan die gang kan hou.  Alle vleis hier is bevrore en vertoon maar soos alle gevriesde kos nie mooi nie. Brandstof is binne en net buite die kamp beskikbaar en hulle kan lekbande herstel.

Hier is nie ‘n dorp as sulks nie – net die reservaat en die vulstasie.

Die pad na die vlei is ook nou geteer, behalwe vir ddie laaste 5Km, waar slegs 4X4 voertuie toegelaat word.  Hulle het wel “Shuttle service” as jy met ‘n motor kom.

Die pad na die rafyn is baie grof, maar dit is beslis die moeite werd on daar te gaan afklim.

Ons kamp heel goed hier en beveel dit aan as jy Sossusvlei wil besoek.

Punt toegeken  -  6/10

Kliek hier vir Sesriem fotos

Webwerf  -  www.sesriemcampingsite.wheretostay.na

SOLITAIRE

SOLITAIRE LODGE AND CAMPING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -   Hierdie plekkie is nie ‘n dorp, soos op kaarte aangedui nie,  maar bestaan uit die lodge, ‘n vulstasie met klein winkeltjie asook ‘n bakkery wat internasionaal bekend is.  Byna elke toeris en toerbus doen hier aan.

Die kampplek is agter die Lodge, met sommige staanplekke langs die grensdraad met die pad.  Toeriste verkeer deur die dag is heel besig, maar saans minimaal.  Die beste staanplekke met skadubome is aan die anderkant van die kamp en stof en padgeraas sal bietjie beter wees hier.

Die gruis oppervlakte is gelyk, elke staanplek het ‘n lig en braai en is goed afgemerk.  Die ablusiegeriewe was skoon en netjies, en so ook die hele terrein.  Daar is bietjies tuin aangele, wat die plek beslis sagter maak op die oog.

Hierdie is ‘n goeie oornag plek,  en ‘n besoek aan die bakkery ‘n moet.

Punt toegeken  -  6/10

Kliek hier vir Solitaire fotos

Webwerf  -  www.solitairecountrylodge.com

SPITZKOPPE

SPITZKOPPE COMMUNITY CAMP

Laaste besoel  - 2013

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

SWAKOPMUND

GOANIKONTES-OASIS

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons  het op die plek afgekom toe ons die Welwitschia Woestyn roete van so 160 Km buite Swakopmund gaan ry het.  Jy ry deur kilometers van sand en rotse waar jy niks en niemand sien of teekom nie – dit lyk ook nie of enigiets hier kan oorleef nie. Dan daal jy af na die Swakoprivierbedding deur so ‘n junior pas, kom tussen twee rotskoppe deur en daar le hierdie pragtige groen oase voor jou, asof dit ‘n visioen is.  Klim maar uit en voel aan die plante as jy jou oe nie kan glo nie – dis rerig egte plante wat hierdie lafenis skep.

Die  oase is so 58Km van Swakopmund in die middel van niks en nerens. Jy kan 40 Km op die B2 na Windhoek ry, op die D1991 links afdraai en na 18 Km by die Oase uitkom.  ‘n Beter idee is egter om ‘n permit van die Dept van Natuurbewaring in Swakopmund te kry (R35 pp) om die Welwitschia Woestyn roete te ry.  Jy kry dan ‘n kaart met aanwysings en ook inligting oor plante en dinge langs die roete.  Ook vir hierdie roete neem jy die B2 uit die dorp,  draai af op die C34 (ou soutpad) na Walvisbaai, net na die Swakoprivier draai jy af op die C28 (ou pad na Windhoek).  Net na jy die Naukluft Park borde kry, draai jy links op die D1991.  Volg die bakens van die Welwitschia roetes tot jy ‘n klein bordjie kry wat se “Toilette  3 Km”, draai hier links en jy ry in die plek vas.

Hulle het ‘n uitstekende restaurant, bungalows, chalets en dan die kampeering.  Net ‘n boskaravaan of boswa kan hier uithom.  

Die Staanplekke is op gruis onder bome en elkeen het ‘n lig en braai.  Hulle is groot en redelik ver van mekaar.  Daar is op die oomblik nog nie kragpunte by die staanplekke nie en warmwater kom van ‘n groot donkie.

Hulle het ‘n plaasdam en swemdam met ‘n lapa daarby.   Die ablusie blok is regtig iets wat jy verwag om in ‘n 4 Ster park hier by ons aan te tref.  Die hele plek is uitgeteel, vertoon goed en was onberispelik skoon toe ons sonder kennisgewing daar opdaag.  Hulle gebruik wel brakwater wat uit die rivierbedding gepomp word, maar het ook ‘n konneksie vanaf die pypleiding wat Swakopmund van drinkwater voorsien – die krane is duidelik gemerk om drinkwater aan te dui.

Hier kamp jy om die stilte en eiesoortige mooi van die woestyn te beleef – iets baie spesiaal.

Punt toegeken  -  8/10

Kontak  -  goanikontes-oasis@iway.na of tel +264 64405 976


SWAKOPMUND

TIGER REEF CAMPING 

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die huidige eienaars het twee jaar gelede die ou Swakop River Camping gekoop, dit herdoop en het begin om die hele kamp op te gradeer.   Werk moet voor Desember 2013 voltooi wees, maar intussen is hulle oop vir besigheid.

Daar is huidiglik 23 staanplekke wat hulle besig is om te herbou. Die staanplekke is in ‘n sirkel om ‘n groen gras area uitgele.  Elkeen het ‘n afdak van skadudoek wat met palmblare bedek is en ook regom met palmblare toegemaak is.  Die gruis oppervlakte is baie naby aan gelyk.  Die braai’s is ook al gebou en krag aangele.  Die oppervlakte vir die privaat ablusies is ook reeds voorberei, maar nog nie gebou nie.

Die ou ablusieblok en  kombuisarea is opgedollie, maar is maar oud en nie baie goed, maar tog aanvaarbaar.  Dit sal in elkgeval mettertyd afgebreek word.  Toilette en storte is apart en is uniseks. Witgoud word voorsien.  Die storte is groot, elk met  ‘n nuwe gas waterverwarmer.  Die wasbakke het net koue water.  Die kombuisarea het skottelgoed- en wasgoedbakke met warm water.  Daar is geen wasgoedlyne nie.

Die hekke word deur sekuriteitspersoneel beman (24 uur) en ‘n redelk stewige heining, ook met palmblare bedek omring die kamparea.  Hier is onlangs buitelands toeriste op die strand aangeval, maar hulle polisie en buurtwag het die oggend van die aanval drie van die aanvallers vasgetrek en nou ook die vierde een gevang .  

Ons was gelukkig hier en sal graag die kamp wil sien wanneer alles klaar gebou is.

Punt toegeken  6/10

Kliek hier vir Tiger Reef fotos

Webwerf  -  NVT




USAKOS

USAKOS CAMPSITE & ACCOMMODATION

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie hier gekamp nie, omdat ons lugtig was vir die padgeraas van die B2 hoofpad af.

Punt toegeken  -  0/10

VISRIVIER CANYON / KEETMANSHOOP

CANYON ROADHOUSE CAMPSITE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons weet nie mooi van die spelling nie – Op die gebou in dit CANON ROADHOUSE  en is hulle geskrifte CANYON ROADHOUSE. So ook die dorp waaronder dit val – Keetmanshoop is bitter ver.

Hierdie baie groot oord, staan letterlik in die middel van niks en nerens.  Dit is so ‘n halwe skok om op die eislike plek af te kom na baie kilos van grondpad.  Omtrent alles hier is in die oortreffende trap en is ‘n moetbesoek plek.

Daar is slaapkamers, suites en dan die kampplekke beskikbaar.  Die groot staanplekke is agter die swembad, is goed gemerk en ‘n genommerde staanplek word aan jou toegeken.  Die oppevlakte is gegruis en gelyk.  Elke staanplek het ‘n braai, lig en kraan en meeste het ‘n skaduboom.

Daar is vyf ablusieblokke en dit kom baie luuks voor, maar is nie heeltemal gebruikersvriendelik nie.  Die storte het geen neersit- of sitplek nie.  Die stortwater spat ook maklik in die aantrek gedeelte in.  Elke blok het ses toilette, ses storte, ‘n aparte lokaal met wasbakke en nog een met skottelgoedwasbakke.  Twee wasgoedbalies is buite aangebring.  Alles was skoon en netjies tydens ons tweedag besoek en daar was genoeg baie warm water.

Hulle het ‘n groot wildspark, maar ons het nie daar gaan rondry nie, wou eerder rus.  Ons het wel na die uitkykpunt  by die Canyon kyk en ook dit is ‘n moetsien.

Die hele trekpleiser hier is hulle baie groot winkel/restaurant/ontvangs area.  Daar is letterlik dosyne ou motorwrakke, gereedskap, petrolpompe, advertensies en nommerplate.  Die hele tema van ou voertuie word reg deur die area baie vernuftig gebruik.

Die plek is toeganklik vir gewone motors en petrol en diesel  is hier beskikbaar. 

Ons het lekker hier gekamp en kan ‘n besoek hier aanbeveel,

Punt toegeken  -  6/10

Webwerf  -  www.gondwana-collection.com

Kliek hier vir Canyon Roadhouse fotos


VISRIVIER CANYON/KEETMANSHOOP

HOBAS CAMPING SITE.

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie kamp is nog verder weg van Keetmanshoop, maar nou ja, hier tel afstande nie veel nie. Dit is ‘n staatsbeheerde kamp (Namibian Wildelife Resort), maar dit lyk nie so nie.  Die hele area was skoon en netjies en het ‘n besonder goeie indruk gemaak.

Die  gelyk staanplekke is onder bome en lekker groot.  Daar is gewone kragpunte en ‘n hele klompie krane.  Die ablusieblok is deel van die ontvangs- en winkelkompleks en net so ‘n knerts ver van sommige staanplekke.

Die ablusieblok was skoon en netjies, die water warm en toiletpapier word voorsien. Die storte is lekker groot met genoeg hakke.  Alles hier was in ‘n werkende toestand

Die winkeltjie is maar eina en moet nie op hom staatmaak nie. Hier is geen brandstof beskikbaar nie.

Gewone motors kan maklik hier kom en dit is ook die naaste kamp aan die uitkykpunt oor die visriviercanyon.

Beslis nie ‘n plek waar ons lank sal bly nie, maar ‘n goeie oornagpark

Punt toegeken  -  5/10

Webwerf  -  www.hobascampingsite.wheretostay.na

Kliek hier vir Hobas fotos


WALVISBAAI

LAGOON COTTAGES CC

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons ontdek die kamp terwyl ons rondry, en wat ‘n verrassing.   Ons het toe reeds in Swakopmund nes geskop, so nie sou ons beslis hier gekamp het.

Die fotos op ons Picasa Albums vertel eintlik die storie beste.

Dit is ‘n baie groot oord met staanplekke, chalets, huise en woonstelle – almal uiters netjies en pragtig versorg.

Die 16 staanplekke is almal op gelyk gruis/gekompakteerde sand en elkeen het ‘n windskerm van minstens 3 meter hoog.  Daar is normale 15A muurproppe, ‘n braai, tafel,  bankie of stoel, lig en braai. Meeste het ‘n skaduboom of kuierhoekie en ook ‘n wasgoedlyn. Meeste is ook groot genoeg om twee karavane te huisves.  Ons het goeie staanplekke in Namibie teegekom, maar hierdie vat die koek.

Die ablusieblok was regtig skitterskoon, alhoewel die kamp leeg was en ons ook sommer net opgedaag het.  

Hulle het ‘n klein speelplekkie, restaurant en kroeg – ongelukkig het ons reeds ge-eet voor ons hier uitgekom het.  Daar is ook ‘n onderdak  braaiarea, en automatiese wasmasjiene.

Die oord is baie naby aan die lagoon, maar ons het nie daar probeer deurstap nie,  het na ‘n pappery gelyk want dit was springlaaggety en die see baie ver teruggetrek.

Ons kon nie goeie kampplekke hier opspoor nie, en was regtig verstom dat hierdie oord nie beter bekend is nie.

Punt toegeken  -  8/10

Webwerf  -  www.lagoonchaletswb.com

Kliek hier vir Lagoon Chalets fotos


WALVISBAAI

LANGSTRAND OORD (LONG BEACH CAMPING)

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Reuse ontwikkelings vind hier plaas, met bou projekte bykans rondom die oord.  Dit lyk selfs of ‘n deel van die oord ook ingesluk sal word.  Die kontoor het ook die naam van die ontwikkelaars opgehad en niks van die oord gemeld nie.
Die hele plek was verlate, maar het tog nog versorg voorgekom.  Ons het nie verdere navrae gedoen nie, aangesien die gebouery ons nie aangestaan het nie.

Punt toegeken  -  NVT

WINDHOEK

URBANCAMP.NET

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het 'n advertensie van hulle gesien en net voor donker op 'n Sondag hier aangekom, sonder enige vooraf reelings.  Ons is gul ontvang en het 'n staanplek onder 'n afdak, met privaat badkamer bekom, teen 'n goedkoper tarief as wat sommige boskampe vra.

Die park is in Windhoek Wes, by 2 Schanzen Straat.  Dit is so twee kilometer van die middestad af.

Die park word nog ontwikkel, maar 11 staanplekke is reeds voltooi.  Elke staanplek het 'n spits skadudoek afdak waaronder jou tent op 'n gelyk plavei-area staan.  Daar is 'n geboude braai, lig, kraan, hangmat en privaat badkamer met 'n stort, wasbak, toilet en skottelgoedbalie.  WiFi internet is kosteloos beskikbaar reg deur die kamp.

Hulle het 'n "splash pool" by die kantoor.  Die kantoor area dien ook as restaurant en kroeg.  Ons was bekommerd ook lawaai, maar die verkeer raak stil by so 21.00hr en daar was geen geraas in die kamp nie.

Die kamp is elektries omhein en die ingangshek word per kode oopgemaak.

Daar in 'n inkopiesentrum minder as 'n kilometer van die kamp. 

Ons het twee dae langer as beplan hier oorgebly en kan die plek aanbeveel as jy in Windhoek moet of wil oorstaan.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.urbancamp.net  

Kliek hier vir Urbancamp fotos


As u 'n E-Pos aan ons wil stuur, KLIEK HIER


 

 

 

Make a free website with Yola