Translate This Page

 LIMPOPO

BELA BELA (WARMBAD)
ATKV KLEIN KARIBA
Laaste besoek  -  2004
Kommentaar  -  Ons het nie hier gebly nie maar die kamp ‘n paar keer besoek en ook funksies in hulle ontspanningsaal bygewoon.  Dit is ‘n tipiese ATKV oord, mooi, goedversorg maar raserig.  Die park is in ‘n pragtige kloof geleë, het baie bome, gras en waterstrome.  Die staanplekke is groot, meestal gelyk en goed gemerk.  Die ablusiegeriewe is modern en skoon.  Die park is net buite die dorp, wat goed ontwikkel is.  Vermaak word gereeld vir vakansie gangers gereël.   ‘n Baie goeie bestemming  vir mense met kinders,  of  as jy van ‘n woelige park hou – ons is nie lief vir ATKV oorde nie.
Punt toegeken  -  4/10

Sien inskrywing van Jantjie onder  3de Party aanbevelings
Web adres  -  www.atkvkleinkariba.caravanparks.co.za

BELA BELA

BAKARA GUEST FARM

Laaste besoek   -

Kommentaar  - Geen besoek datum nie, omdat ons nog nie hier gekamp het nie.  Ons het egter soveel goeie goed gehoor, dat ons dit op ons hoofblad wil plaas.

Die Park het teen die einde van 2021 oop gemaak en is dus nog splinter nuut,

Hulle het 23 staanplekke, een ablusieblok, swembad en restaurant. Alles is nuut en die ablusieblok en interne paadjies netjies.  Soos by alle oorde in hierdie area, moet jy maar bietjie rooi stof/sand verwag.

Jy kry hulle op die Negesterpad, so 12Km buite Bela Bela.

Punt toegeken  -  (nie gedoen nie)

Telefoon  - 083 351 4683


BELA BELA

BOSFONTEIN WOONWA-OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Groot, netjies Oord op die Eerstbewoon pad buite Bela Bela. Baie aandag aan detail en allerhande versierings peul hier en daar uit.  Ons het die Oord in die winter en tydens 'n erge droogte besoek,  sal sekerlik baie beter na die reëns vertoon.

Die staanplekke is gelyk en meestal onder bome, wat in die somer skaduwee sal verseker.  Die hele area is gelyk , met geplaveide staanplekke.  Die swembad area word groen en netjies gehou.  Die restaurant vertoon goed, maar was gesluit tydens ons besoek.

Ablusiegeriewe is netjies, goed onderhou en was skoon tydens ons besoek. Allerhande versierings kikker die geriewe beslis op.  Witgoud was beskikbaar.

Hier is genoeg krane, met goeie waterdruk, losstaande braaigeriewe en asblokke beskikbaar.  Soos in bykans alle bosveldoorde, is stof maar 'n probleem.  Interne paaie is aanvaarbaar.  Die toegangspad is nou en jy moet asseblief maar stadig ry om skade aan die pad, en jou wa, te voorkom.

Ons kan die Oord beslis aanbeveel.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Bosfontein fotos

BELA BELA

DIE BOOTKLUB

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  - Die oord is op die walle van die Bela Beladam, noord van die dorp.  Teerpad tot by jou staanplek.  Die hele area is pynlik netjies en skoon. Die staanplekke is grasbedek en lowergroen tydens ons besoek.  Die dam was redelik leeg, maar dit was steeds maklik om 'n boot te water te laat of om vanaf die oewer te hengel.

Ons besoek was tydens die stiller tyd, maar nogtans was alles skoon en netjies.  Die ablusieblokke is redelik nuut en alles was in 'n goeie werkende toestand.

Ons glo dat die dam sal wemel van die bote gedurende die somerskoolvakansies, maar tydens ons besoek was alles stil en rustig. 

Ons was regtig be-indruk met die plek en sal dit beslis weer besoek.

Punt toegeken  8/10

Tel - 078 208 4567

BELA BELA

EL RANCHO GRANDE

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Die Eienaar is middel 2019 oorlede en die Oord tans gesluit en op die mark.

Hierdie is 'n goed ontwikkelde Oord en ons vertrou dat dit weer eerdaags sal heropen.

Punt toegeken  -  Nie gedoen  (Gesluit)

Kliek hier vir El Rancho fotos

BELA BELA

FOREVER RESORTS WARMBAD
Laaste besoek  -  2008
Kommentaar  -  Ons het ‘n paar keer hier gekamp en dit baie geniet.  Die park is in die dorp, maar is baie groot met sy eie klein natuurreservaat.  Die staanplekke is groot, gelyk en grasbedek. Daar is baie koeltebome beskikbaar.  Die wilde varke en wildsbokkies kom jou gereeld besoek.  Dit is ‘n groot goed ontwikkelde area met baie spasie en water “features”.  Jy kan stap,swem ,roei, foefie slide of waterski.  Die hoof buiteswembad is oop vir dagbesoekers, maar hulle bly nie na 17.30hrs nie, jy kan dan in vrede swem as jy nie vroegoggend so wil maak nie.  Die binnehuisswembad is net vir inwoners van die oord en dus heel  stil.  Dit bly ook oop tot 21.00hrs en ons besoek dit elke aand.  In die winter is dit heerlik om na die swem karavaan toe te stap om af te koel voor jy gaan slaap.
Die park raak besig oor naweke en as dit te raserig raak, kontak jy net Sekuriret, wat dadelik optree.  Ons moet dit egter nog net een keer doen, tydens al ons besoeke. Die dorp is goed ontwikkel met alles wat jy nodig het, beskikbaar.  Daar is winkels net oorkant die park en jy kan dus jou motor hier maar toesluit en vergeet.
Punt toegeken  -  8/10

Webwerf  -  www.foreversa.co.za

BELA BELA

INNIEKOPPIE KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2019

Komentaar - Hier is nou net permanente inwoners.

Punt toegeken  -  0/10

BELA BELA

KLEIN BEGIN VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons het nie hier gekamp nie, maar slegs die oord besoek.

Die toegangshek was nie gesluit nie, maar die kantoor wel.  Die Eienaar woon op die perseel, maar ons het hom ongelukkig nie raakgeloop nie.  Ons het wel met een van die inwoners gesels, wat net lof gehad het vir die oord en sy eienaar.

Daar is heelwat mense wat permanent hier woon in gewone padwaens, maar ons sal nie sommer ons Penta hierheen sleep nie.  As jy stilte soek, is die plek sekerlik vir jou, veral as jy 'n boswa sleep.

Net 'n paar staanplekke is oop vir vakansiegangers en jy sal beslis nie hier vertrap word nie - hier word ook geen dagbesoekers en troeteldiere toegelaat nie.  Die staanplekke is tussen groot bome en redelik weg van mekaar.  Die Oord is op tipiese bosveld rooisand, maar die staanplekke geplavei.  Die hele area is gelyk.

Die binne- en buiteswembaddens is klein, maar was goed versorg.  Die ablusieblok is ook klein en heel basies, maar was skoon en netjies.  Die gesinsbadkamer is 'n wenner, maar al die storte klein en sander 'n droë area.

Hulle het 'n klein winkeltjie op die perseel, maar dit was toe tydens ons besoek en ons kan dus nie kommentaar lewer nie.  Daar is wel 'n winkel by die garage waar jy afdraai na die oord toe, maar vir meeste van jou aankope sal jy maar Bela Bela moet bsoek.

Hierdie plek is vir die bosveldmanne met boswaens wat stilte soek en snags na die sterre wil kyk, bietjie afgesonderd vir ons.

Punt toegeken  -  2/10

Kliek hier vir Klein begin fotos

BELA BELA

KLEINE BELA FAMILIE-OORD

Laaste besoek 2019

kommentaar - Hierdie is 'n redelik nuwe Oord wat deur die eienaar egpaar ontwikkel word.  Hulle het al reuse werk gedoen en hierdie tipiese bosveldoord lyk goed. Hierdie gebied is in 'n erge droogte gewikkel en hulle kan op die oomblik net van die gras en tuine nat hou.

Die Oord is redelik naby die Eersbewoondpad buite Bela Bela en die toegangspad dus nie 'n probleem nie. Die interne sandpaaie was netjies.

Hulle het besluit om kleiner badkamers te bou om die geriewe nader aan die kampeerders te hou - ons hou hiervan.  Al die geriewe was skoon en netjies, en so ook die hele area.

Staanplekke is tussen die bome en glad nie opmekaar nie.  Die kampeerders wat ons mee gesels het, was baie tevrede met die oord en het 'n goeie rapport met die eienaars.

Hierdie is nie 'n luukse oord nie, maar bied goeie waarde vir geld en ons kan dit beslis aanbeveel vir langkamperders.

Punt toegeken  -  6/10

Tel 083 651 0558

Kliek hier vir Kleine Bela fotos

BELA BELA

MABALINGWE NATURE RESERVE

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Ons het onbespreek hier opgedaag en is regtig vriendelik en behulpsaam deur die personeel (van hekwag tot kantoor) ontvang.

Die kamp is in 'n groot private wildpark gelee, wat veiligheid en privaatheid baie verseker.  Die kamp area is groot en die staanplekke goed verspreid, sommige met vol skadu en ander vol son.  Die interne paaie is goed, beligting goed en het genoeg krane, kortom, dit wat ons van 'n 4 ster park verlang.  Ook die kantoor, winkel, restaurant en swembad is op 4 ster gehalte.  Ons het al beter ablusiegeriewe gesien, maar nie baie nie.  Ook die wildtuin en sy paaie is bogemiddeld.

Ons het ons kort verblyf hier geniet en kan die park met vrymoedigheid aanbeveel.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.mabalingwe.co.za  

Kliek hier vir Manalingwe fotos

BELA BELA

MARULA OASE

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons bly twee maande hier, omdat Tilla mediese sorg benodig.

Die Oord het 'n groot area waar permanente inwoners bly, maar dit is weg van die vakansie-area en buitendien netjies en maak geen inbraak op die kampeerders nie.  Hulle het ook huise en chalets wat aan vakansiegangers verhuur word.

Die kort sandpad na die Oord toe is stowwerig, so ook die interne paaie.  Hierdie is bosveld area en die rooi stof is maar 'n bosveld ding.  Dit is bitter droog, maar hulle probeer tog om van die gras aan die gang te hou.

Die kampeerarea is in 'n A en B blok opgedeel.   Die A blok se staanplekke is geplavei en is naby die hoof ablusieblok.  Die B seksie het gras of sandstaanplekke.  'n Paar vab die B staanplekke is gelyk, maar meeste is teen 'n redelike skuinste wat dit nogal moeilik maak om jou wa gelyk te kry.  Hier is 'n kleiner ablusieblok wat heel skaflik lyk van binne.   Dit word elke dag skoongemaak en toiletpapier word dan aangevul.  Los braaiers word voorsien.

Die swembad area het twee koue baddens en ook 'n verhitte onderdak swembad.  Hierdie area is baie mooi ingerig en word skoon en netjies gehou.

Hier is egter twee probleme: eerstens is baie van die staanplekke te klein vir ons Penta, met vol tent, en het ook nie plek vir ons bakkie nie.  Tweedens was die oorloop van rioolwater 'n probleem en ook die gevolglike stank wanneer hulle dit leegpomp en wegry.

Hulle klein wildkamp het bosbokke, sebras, blouwildebeeste, blesbokke en duikertjies.   Dit is baie droog tydens ons besoek en kos vir die diere baie min.

Sal ons weer hier kamp? beslis in die stiller tye, maar dan ook net as hulle die riool probleem oplos.

Punt toegeken  -  2/10

2019  -  Danie, die eienaar, het die nodige gedoen en die gryswater probleem opgelos.  

Punt nou toegeken  -  5/10

Kliek hier vir Marula fotos

BELA BELA
RONWIL VAKANSIE OORD
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  Die oord is naby die ATKV oord, buite die dorp.  Dit is op ‘n kleinhoewe en jy kan vrylik rondstap.  Daar is baie bome en bosse, met die staanplekke tussen in, lekker privaat.  Die ablusie eriewe is sentraal geleë, moet nie te ver weg opslaan nie.  Dit is uniek in dat dit uit afsonderlike badkamers bestaan met elk ‘n bad, stort, wasbak en toilet.  Die stort is egter nie afgesluit nie, maar is oop in die een hoek.  Die hele vloer loop dan af tot onder die stort, waar die water wegloop – nogal lekker.
Die eienaar is ‘n kunstenaar en hy leef hom uit in die park.  Daar is allerhande kunswerke versprei oor die park.  Stap rond, loer oral in en soek hulle, asook die grotto swembad.  Miskien nie ‘n park vir lank bly nie, maar beslis ‘n kort besoek werd.

TWEEDE BESOEK DESEMBER 2012: Ons het vir Desember bespreek, maar die park is nou in so 'n swak toestand dat ons nie eers daar wou oornag nie, alhoewel ons bykans die hele dag gesleep het.  Die kamp was leeg en die dame by ontvangs het dadelik aangebied om ons deposito terug te betaal - hulle is dus deeglik bewus van die onaanvaarbare toestand van die kamp.

ONS SAL BESLIS NIE WEER HIER KAMP NIE

2015  -  Sien kommentaar van Jantjie onder 3de Party aanbevelings.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  - Nie beskikbaar.

BELLA BELLA

SAN CHA LEN

Laaste besoek  2019

Kommentaar  -  Redelike lang sandpad hierheen, maar Whitey, die eienaar hou dit in 'n redelike toestand.  Behou momentum as jy 'n padwa met 'n ligte motor sleep.

Die klein plasie het heelwat wild en genoeg paaie om jou besig te hou. Dit is ook netjies omhein en met elektriesedrade beveilig.

Die hele area is gelyk en en redelik boomryk.  Die 20 staanplekke is ver uitmekaar en is geplavei, maar die bosveld se rooi sand is maar oral.  

Die twee ablusieblokke was baie netjies en skoon - die hele plek gee die indruk van eienaars wat omgee.  Hulle bly dan ook op die perseel.

Hulle is ook besig om die huwe chalets af te rond.  Hulle is 'n hele entjie van die karavaanpark af.   

Ons het nie die boskamp besoek nie,  die son het gaan leeglê.  Sal later weer gaan kyk.

Kliek hier vir San Che Len fotos

Punt toegeken  -  6/10

BELA BELA

SHAMMAH BOSVELD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Die redelike lang sandpad lei jou na 'n eiesoortige karavaanpark.  Hierdie is nie 'n vakansie-oord nie, maar liewer 'n baie netjiese oord vir langstaners.

Elke staanplek het 'n sinkplaat afdak en is geplavei.  Water en krag is aangelê en hulle is redelik ver van mekaar.  Meeste kampeerders bly vir maande op 'n slag hier en het die sye van die afdakke netjies met skadudoek toegemaak.  Alhoewel alles baie netjies is, is hier nie 'n vakansie atmosfeer nie - dit is duidelik 'n langstaankamp.

Hulle kerkie, saal, swembad en kroegarea is baie netjie, en so ook die hele terrein.  Hulle is amper klaar met die tweede ablusieblok en hier is dus nog bietjie bourommel om op te ruim.  Gesien die netheid van die oord, glo ons dat dit binnekort ook weg sal wees.

Hierdie is bosveld wereld en rooi sand is 'n gegewe,  maar ons kan beslis die oord aanbeveel vir maand-/langstaners.

Kliek hier vir Shammah fotos

Punt toegeken  6/10  (Lankstaan)

BELA BELA

SILVER ROCKS KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons GPS het ons verby die ingang geneem toe ons Silver Rocks ingesleutel het - gebruik liewer Silver Stream en hou dop vir die mooi ingang.

Die personeel by die hek was uiters vriendelik en behulpsaam, maar die Ontvangskantoor gesluit en was duidelik nie onlangs gebruik nie.

Die kampeer area is gelyk en grasbedek, maar skaduwee skraps. staanplekke is duidelik uitgelê en lekker groot.

Die Oord was leeg tydens ons besoek, maar die badkamers in 'n heel aanvaarbare toestand.  Daar is wel waterskade, veral aan die manskant, maar hier is beslis baie moeite gedoen om die hoof ablusieblok bietjie spesiaal te maak.   Die tweede een is soos 'n "upmarket" boskamp eenheid uitgelê, maar is steeds goed beplan en sal beslis in die somer baie koeler wees.

Die permanente tente kamp is verwaarloos en nie aan te beveel nie. Die huisies lyk ook nie of hulle in gebruik is nie, met onversorgde gras.

Die interne paaie is geplavei en dus stofvry.  Die grondpad hierheen, van so 3.5Km was redelik sinkplaat tydens ons besoek en die padwa manne moet liewers stadig en versigtig ry.

Kliek hier vir Silver Rocks fotos

Punt toegeken  -  6/10

BELA BELA

THABA MONATA GAME LODGE

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie is 'n groot wildsplaas met baie goeie kampeertariewe en is beslis 'n vakansiebestemming. Hulle het koud- en warmswembaddens, tennisbane, 'n buite skaakstel, put put baan, wildsritte vir gewone voertuie, 4X4 roete, speletjieskamer en kroeg met DSTV.

Die grondpad hierheen is plek plek skurf, maar kan maklik met 'n padwa baasgeraak word as jy stadig en versigtig bestuur.  Interne paaie is tipiese bosveld sandpaaie en geskik vir gewone voertuie.  Ons het net 'n entjie op die 4X4 roete met ons Hilux 2X4 gery en geen probleme ondervind nie - net die donker het ons ingehaal.

Die ontvangsarea is redelik ver van die ingangshek af en let maar mooi op om op die regte roete te bly. Ry verby die twee kampplekke tot by Ontvangs.  Die dames daar was vriendelik en behulpsaam.   Gaan kyk ook gerus na die vallei vanaf hulle uitkykpunt voordat jy terugry kampplek toe.

Beide die kampplekke is netjies en gelyk met goeie, nie luukse, ablusiegeriewe.  Krane en kragpunte is goed verspreid.  Die hele area lyk asof dit goed bestuur en onderhou word. Dit is bitter droog tydens ons besoek en hulle kan duidelik nie alles groen hou nie, maar hulle probeer duidelik en die diere word gevoer.

Beslis 'n aangename vakansie-oord vir 'n bosveldliefhebber.

Kliek hier vir Thaba Monata fotos

Punt toegeken  -  8/10

BELA BELA

UMOYA RESORT

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons kom toevallig op die Oord af en wat 'n verrassing!  Nuwe eienaars het vroeër,  begin 2019, die oord oorgeneem en sommer 'n klomp verbeterings aangebring.

Hulle het 16 staanplekke met private badkamers wat 'n stort het, en 9 met private ablusies wat ook 'n bad het. Hulle het ook 35 gewone staanplekke met geplaveide staanplekke, kraan, lig en braai. Meeste van die gewone staanplekke het 'n boom of boompie iewers op die staanplek.  Hulle is ook ver genoeg van mekaar af, dat jou bure jou nie sommer sal steur nie.

Die bloukragpunte is ietswat weggesteek onder uile se basis - buk af en kyk mooi; hulle sal beslis nie natreën nie.

Die ablusies is baie mooi uitgelê, lyk pragtig en was silwerskoon. Die gemeenskaplike ablusie blok het ook 4 gesinsbadkamers, skottelgoed opwasplek en twee balies vir wasgoed was.

Die groot speelterrein, swembad, restaurant, kroeg, put put baan en resiesbaan vir die "skopscooters" is pragtig en alles werk.  Hulle bied ook vermaak vir die kleinspan hier aan oor die Desember vakansie. 'n Paar springbokke loop in die oord rond en hulle het ook eende, swane, hoenders en hase wat in draadkampe aangehou word.  Die klein dammetjie waar jy kan hengel (catch & release) is bitter klein.

Die kantoordame was uiters vriendelik en behulpsaam.  Die kort grondpad na die hek toe, behoort nie 'n probleem te wees nie.

Punt toegeken  -  8/10

Kiek hier vir Umoya fotos

E-Pos  -  bookings@umoyaresort.co.za

BELA BELA

WATERBERG RESORT

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Die Oord is so 10Km buite Bela Bela op die Eerstbewoonpad. Die laaste kilometer grondpad was in 'n goeie toestand en geskik vir padwaens.

Die oord word deur die eienaars bestuur en alles was skoon en in 'n werkende toestand tydens ons besoek.  Die kroegarea is baie mooi, maar was nie in bedryf tydens ons besoek nie.

Hulle het 4 tente met 'n yskas en ketel, asook privaat ablusiegeriewe. Hulle slaap twee persone elk.

17 Staanplekke het elk 'n privaat ablusieblok en is lekker ver van mekaar uitgelê.  Hier is heelwat bome, maar tydens ons besoek was die area in 'n jarelange droogte en mens kan maar net hoop dat hulle die droogte sal oorleef.  Die gras lyk ook asof dit in die stof gebyt het. Bloukragproppe en kraan bedien elke staanplek.

Hier is ook 18 gewone staanplekke met 'n gemeenskaplike ablusieblok. Elk het 'n kragprop, kraan en braai.   Hulle noem dit 'n boskamp, omdat staanplekke ver uitmekaar tussem die bome lê, maar die ablusieblok is een van die netjieste wat ons onlangs gesien het.

Die hele area is gelyk, maar is tipies bosveld op rooisand uitgelê en dus stowwerig as die wind waai.  Die klein winkel hou die nodigste aan, maar Bela Bela is binne maklike bereik vir groter aankope.

Ona was aangenaam verras met die plek en as die bosveld jou roep en jy stilte soek, is hierdie die plek vir jou.

Punt toegeken  -  6/10

Kliek hier vir Waterberg fotos

Webwerf  -  www.waterbergresort.co.za

HAMMANSKRAAL

ALMEGA KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons besoek hulle op 'n Sondag oggend, net na 'n besige skoolvakansie naweek, en die Eiernnaarres neem ons dafelik op 'n begeleide toer van die Park.  Sy is baie duidelik trots op wat hulle hier vermag het.

Die karavaanpark lê net buite die Dinokeng Reservaat, met 'n baie kort sandpad tot bt die kamp self.  Hierdie en interne paaie is in 'n baie toestand.

Die 40 staanplekke het elk 'n privaat badkamer.  Die 10 ablusie blokke is redelik ver van mekaar en elk bedien 4 staanplekke.  Regtig 'n uitstekende uitleg.   Die badkamers is luuks van binne en ook baie prakties.  Buite is 'n skottelgoed opwasbak, kraan en kragpunt.  Die hele area is gelyk en hulle probeer hard om die gras in die uiterste droogte toestand aan die gang te hou.

Ons beskou hierdie as ons uitsoek kampplek in die area en sal beslis vorentoe hier kamp

Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Almega fotos

HAMMANSKRAAL

DE RUST KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie karavaanpark in in die Dinokeng Reservaat naby Hammanskraal.   Een van die gereelde kampeerders daar het dit netjies opgesom as " A less developed campsite".  Hier is rus en vrede die hoof rede om hier te kamp.

Die hele area hier is gelyk en die bome op die walle van die Pienaarsrivier bied middag skaduwee. Twee staanplekke is onder bome, maar die res in vol son. Staanplekke is nie duidelik afgemerk nie, maar die area is groot en dit behoort nie 'n probleem te skep nie.

Gewone huisproppe voorsien krag by die staanplekke.  Ons het dit nie getoets nie, maar die 2.5mm platsurflex vir twee proppe is nie bemoedigend nie.

Skottelgoed- en klere-opwasplekke is baie basies,  asook die klein ablusieblok.  Moet nie 5ster fasiliteite verwag nie.

Die lang sandpad hierheen kan wel met 'n sedanmotor en padwa bereik word. maar stof en sinkplaat sal jou spoed in toom hou.

Die plek is beslis gerig op die minimalistiese kampeerder wat stilte bo gerief soek.

Punt toegeken  -  2/10

Kliek hier vir De Rust fotos

HAMMANSKRAAL

RUST DE WINTER

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie is eintlik 'n klub vir die 4X4 manne, wat dan ook 'n hele paar karavane het wat permanent hier staan.  Die publiek is welkom om hier te staan, maar onthou die klubmanne het voorkeur.

Die ontvangsdane was baie vriendelik en het ons selfs 'n onderdak staanplek ge-offer.  Die staanplekke is nie afgemerk nie, maar die area so groot dat dit nie regtig 'n probleem skep nie.  Hier is reuse groot bome, wat genoeg skaduwee gedurende die somer sal bied.

Ablusies is beslis nie luuks nie, maar dienlik en was redelik skoon op 'n Sondag, na 'n besige naweek in die skoolvakansie.

Ingangspad, asook die toegangspad, is tipies bosveld, maar was in 'n redelike toestand.  'n Gewone sedanmotor sal jou padwa hier kry.  Winkels is redelim ver en jy moet maar jou proviant en genoeg drinkwater saambring.

Bied 'n rustige midweek kampplek, met heelwat meer lewe oor 'n naweek.

Punt toegeken  -  3/10

HAZYVIEW

HAZYVIEW LODGE

Laaste besoek  -  2003

Kommentaar  -  Ons sal nie weer hier kamp nie

Punt toegeken  -  0/10

 As u ons wil kontak, KLIEK HIER, om 'n E-Pos aan te stuur.

MODIMOLE

KLEIN PARADYS GASTEPLAAS

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie Oord is op 'n 350Ha wildsplaas en die kampeer en ander verblyf opsies is netjies versorg en skep 'n oase gevoel in hierdie bitter droog gebied.

Hulle is op die Eersbewoond pad geleë so 12Km vanaf Modimolle en 18Km van Bela Bela af.  Beide dorpe bied goeie koopgeleentheid, maar die Oord het ook 'n klein winkeltjie - selfs met 'n Capitek OTM.

Die staanplekke is gelyk, daar is 'n paar bome en hulle hou van die gras nat.

Krane, kragpunte en asdromme is goed verspreid.

Hulle het 'n groot restaurant, koud- en warmswembaddens, Put Put baan en jy kan op die plaas gaan stap.

Hierdie is 'n tipiese bosveld kamp met goeie geriewe en 'n netjies voorkoms.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Klein Paradys fotos

NABOOMSPRUIT (MOOKGOPONG)

CONSTANTIA MINERALE BRONNE

Laaste besoek  -  2019

Komentaar  -  Ons bespreek vir 'n maand, maar na net 'n week verleng ons dit na twee maande!!  Ons geniet beslis onsself.

Die Oord is so 19 Km buite Naboomspruit en alles teerpad tot by hulle afdraai. Die toegangspad en ook interne paaie is stofpad, maar in 'n goeie toestand tydens ons verblyf - hou net by die spoedbeperking van 20 KPU om die paaie te beskerm en die stof te verminder.  Hulle het gewone staanplekke met 'n puik ablusieblok, maar ook 'n paar staanplekke met private badkamers. Jy het ook 'n keuse tussen volson of skaduwee staanplekke.

Hulle wildskamp van so 75 Ha kan per voet, fiets of motor besoek word om die pooibokke, njalas, blesbokke, kameelperde, blouwildebeeste en vlakvarke te besigtig.

Hiet is 'n groot verwarmde swembal, "super tube" speelarea, winkel en restaurant beskikbaar.  Vir groter aankope het Naboom 'n baie netjies OK en Spar winkels en so halfpad Naboom toe is brandstof beskikbaar by Die Olifant.

Die Spif hoenderplaas se padstal, oppad Naboom toe, is beslis ook 'n besoek werd. So ook die Vleis Fabriek tussen Die Olifant en Spif.

Die kragtoevoer na die oord is nie altyd na wense nie en het met tye tot 185 volts geval, maar is meer gereeld  hier by die 205 volts.

Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Constantia Minerale Bronne fotos

NABOOMSPRIUT (MOOKGOPONG)

DIE OOG VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie is eintlik 'n dorp met sowat 500 huise vir mense oor 50 jaar oud.  Die hele kompleks is baie netjies - goeie onderhoud is duidelik.

Die karavaanpark is teen die kant van die kompleks en buite sig van die huise.

Die 77 standaard staanplekke is groot en daar is heelwat bosveldbome.  Die hele area is mooi gelyk en die staanplekke met kalkstrepe afgemerk.  Elke twee staanplekke deel 'n hokkie vir vuilisblikke en die bloukragproppe is ook hieraan vas.

Die 12 luukse staanplekke het elk 'n eie badkamer, ingeboude braai en buite kombuis.

Die twee ablusieblokke is netjies siersteengeboue en alhoewel nie nuut nie, in 'n baie goeie toestand en was silwerskoon tydens ons besoek.

Hulle het warm- en koue swembaddens, tennisbane, jukskeibane, klimrame vir die kinders en 'n waterglybaan by die warmswembad.

Daar is 'n kroeg, wegneemetes en 'n winkel op die perseel.  Naboomspruit is so 20Km ver, waar daar twee supermarkte is en meeste van die winkels wat kampeerders moontlik kan nodig kry.

Ons het net die Oord vir 'n dag besoek,  maar beveel die plek beslis aan.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.dieoogvakansie.co.za

Kliek hier vir Die Oog fotos

NABOOMSPRUIT ( MOOKGOPONG)

KUDU KARAVAANPARK

Sien "Die Oog"

NABOOMSPRUIT (MOOKGOPONG)

LEKKERRUS VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons besoek die Oord oor 'n naweek en vind net een kamperder in die baie groot Oord - lyk asof hulle permanent daar bly.

Ons gaan kyk na al drie die ablusieblokke en besluit dadelik dat ons glad nie hier sal bly nie.

Punt toegeken  -  0/10

Kliek hier vir Lekkerrus fotos

NABOOMSPRUIT ( MOOKGOPONG)

OLIFANT OASIS WOONWAPARK

Laaste besoek  -  2018

Kommentaar  -  Tipiese bosveld kamp.  Die staanplekke is gelyk met heelwat doringbome, wat 'n mate van skadu gee.  Gras is maar skaars.

Nie elke staanplek het 'n kraan nie, maar die kragtoevoer is netjies en het reg getoets.

Hulle het 'n winkel,drankwinkel, restaurant en brandstofpompe net buite die kamp en die winkel dien ook sommer as ontvangs vir die karavaanpark.

Punt toegeken  -  6/10

Kliek hier vir fotos van Olifant Oasis

NYLSTROOM  ( MODIMOLLE)

MODIMOLLE VAKANSIE- OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons besoek die Oord op 'n Maandag en en vind dit skoon en netjies, met geen teken van naweekbesoekers nie.  Die ingang, kantoor, restaurant en bakhuis is netjies en die ontvangsdame baie vriendelok en behulpsaam.

Die sandpaaie is tipies bosveld en so ook die plantegroei. Hierdie is 'n regte bosveld kamp, maar ongelukkig is die padgeraas vanaf die R101 steurend - raak seker na 'n dag of twee gewoond daaraan!

Baie moeite is gedoen om die staanplekke gelyk te maak en kragpunte is redelik naby. Onthou jou blouprop.  

Hulle was besig met herstelwerk aan die koue swembad, maar die kinder- en warm swembad was skoon en netjies.

Hulle skaakstel en minigholfbaan was skoon en netjies.

Die Oord is so 7Km noord van Nylstroom en dus naby oordentlike winkels, wat sekerlik in al jou koopbehoeftes sal voorsien.

Hierdie plek was voorheen bekend as Tempel Vakansie Oord.

Punt toegeken  -  6/10

Webwerf  -  www.modimolleholidayresort.co.za

Kliek hier vir Modimolle fotos

NYLSTROOM  (MODIMOLLE)

WEESGERUS VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Hierdie verdien in alle opsigte die naam "Vakansie-oord". Van die afdraai na die Oord, tot by die laaste tentstaanplek, is alles puik, skoon en in 'n werkende toestand. Ons was regtig verstom om hierdie oord te sien.

Ons het ongelukkig nog nie hier gekamp nie, maar slegs 'n dagbesoek afgelê terwyl ons in die omgewing was.   Sal beslis hier uitkom.

Daar is 'n netjiese parkeerarea by die kantoor en die personeel daar op hul kop - alles het vinnig en maklik verloop. Die interne paaie is geplavei en stofvry.  Die mooi gelyk staanplekke is goed gemerk en almal naby 'n ablusieblok.  Meeste het 'n geboude braai en kraan by die braai.  Sommige staanplekke het 'n geplaveide area en daar is heelwat gras, maar die droogte en winter het wel deeglik hul merk gelaat.

Die ablusieblokke, en ook meeste ander geboue, is van siersteen gebou en vertoon baie netjies van buite. Daar is die gewone Mans/Dames afdelings, maar ook gesinsbadkamers met 'n stort, wasbak, toilet en bad.  Alles was skoon, netjies en in 'n werkende toestand.

Die swembaddens, winkel, restaurant, tennisbane, glybaan, jukskeibane, en minigholfbaan en damlapa was alles skoon en netjies.  Ons het ongelukkig nie tyd gehad om die wildreservaat te besoek nie, maar van die rooibokke het sommer in die kampeerarea kom groet en was in 'n goeie kondisie.

Ons sal beslis hier kom kamp en beveel die Oord beslis aan.

Punt toegeken  -  9/10

Kliek hier vir Weesgerus fotos

Webwerf  -  www.weesgerus.co.za


POTGIETERSRUS  (MOKOPANE)

DOORNDRAAI DAM NATURE RESERVE

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Let asseblief daarop dat die hek naaste aan Naboomspruit nie meer in werking is nie.  Ignoreer ook die Garmin aanwysings - dit is nie korrek nie.   Gebruik die duidelike aanwysings suid van Potgietersrus om by die Oord uit te kom.

Die grondpad hierheen is redelik lank en stowwerig, maar die oppervlakte goed tydens ons besoek.  Padwaens kan hier kom as jy stadig ry en bereid is om die stof in jou wa te aanvaar.

Hier is drie kampe wat om die onderpunt van die reservaat geleë is en twee van hulle het bootsleephellings.  Die interne paaie is stowwerig, maar meer-en-deels in 'n goeie toestand.  Reenafloop is 'n probleem en bly maar op die uitkyk vir spoelslote.  Die pad na die Rooiribbok chalets, vir die stappers, is nie in 'n goeie toestand nie, en moet liewers nie met 'n motor aangepak word nie - gewone bakkies sal dit maak in droë toestande.

Die drie kampeerareas is almal gelyk en sommige van die staanplekke het 'n klein geplaveide gedeelte. Elkeen het ook 'n braai, kraan en blou kragprop. Ons het 'n paar kragproppe getoets en alles was wel.  Dit is bosveld area hierdie en bome dus nie baie groot nie, maar sommige staanplekke het wel beperkte skaduwee.

Die ablusieblokke is nuut en in 'n baie goeie toestand.  Ruim, skoon, ten volle geteël en alles werk.  Ons het regtig lanklaas sulke geriewe in 'n kampterrein gesien.  Dit is net jammer dat besoekers al reeds die grootste gros van die stortkoppe gesteel het.

Ons het ons besoek hier terdeë geniet en sal beslis weer terug kom om die 7000 Ha reservaat verder te verken.

Punt toegeken  -  8/10

Tel  015 453 9961

Kliek hier vir Doorndraaidam fotos

TERUG NA BO

 


 

2013 kampe.odt 2013 kampe.odt
Size : 9.154 Kb
Type : odt

Translate This Page

Make a free website with Yola