Translate This Page

MPUMALANGA 


BADPLAAS

DEO VOLENTE

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

BADPLAAS
FOREVER RESORTS BADPLAAS
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Ons het die kamp net een keer besoek, tydens ‘n skoolvakansie en dit glad nie geniet met al die gewoel nie.  Dit was ook voordat Forever Resorts dit oorgeneem het, en die verval was net te erg.  Ons glo dat Forever Resorts dit sou verbeter het, en aangesien die park regtig baie potensiaal het, wil ons liefs nie  verdere kommentaar lewer nie.

TWEEDE BESOEK  -  2012

Hierdie park is beslis nou een van die bestes in die land!!!

Ons staan op staanplek 123 in die A karavaanpark - die B park is huidiglik gesluit.  Die staanplek is groot, gelyk, het gedeeltelike skaduwee en kyk uit oor die rivier en wildtuin afdeling - pragtig.  Die ablusies lyk na van die beste en silwerskoon, maar die ontwerp van dit storte is bitter sleg.  Dit is hopeloos te klein en jy spat die aantrekgedeelte sopnat.   Ontvangs was vriendelik en proffesioneel. Ons kon ons eie staanplek kies.  Alle interne paaie is almal stofvry en staanplekke duidelik gemerk.

Die enorme perseel (dit is 'n dorpie op sy eie) is baie netjies, die tuine pragtig en al die swembaddens skitterblink.   Daar is 'n volledige supermark, slaghuis, apteek, haarsalon en OTMs vir Absa en Standard Bank op die perseel. Vir die jonges is daar talle vermaaklikhede en vir die oueres die onderdak baddens.  Daar is 'n paar eetplekke, Curioswinkel  en snoepwinkels   op die perseel.  

Die redelike groot wildtuin is 'n plesier om te besoek.  Hulle bied wildritte aan, maar jy kan teen R100 per voertuig op jou eie gaan wild kyk - net 4X4 en bakkies word toegelaat.  Die paaie is redelik goed en kleinwild is volop.

Die park is byna elke naweek vol en is dan baie remoerig.  Musiek dwawer van alle kante tot laataand en sommige kampeerders is luid en kru.  Hierdie is 'n groot negatiewe punt wat ons volgende besoek hier mag beinvloed.

Punt toegeken  -  9/10  (Naweekgeraas nie in ag geneem)

Webwerf  - www.foreversa.co.za

Kliek hier vir Forever Resorts Badplaas fotos

BADPLAAS

REX'S RANCH

Laaste besoek -  2012

Kommentaar  -  Word deur Forever Resorts Badplaas bedryf, maar ons het nie hier gekamp nie.  Ons kan nie ons karavaan hierheen sleep nie, die grondpad is te sleg.  

Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.foreverbadplaas.co.za 

BLYDERIVIERDAM

FOREVER RESORTS SWADINE

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Hierdie is 'n groot en goed versorgde Oord.  Ons het hier oorgebly kort na hulle groot skade in 'n vloed gehad het en hoewel die skade langs die rivier groot was, was die oord herstel en alles het klop-dissel-boom geloop.

Hier is baie skadubome, maar nogtans is die grasbedekking goed en die staanplekke gelyk.  Baie het geplaveide oppervlaktes en ons glo hulle meer plavei.

Die personeel was vriendelik en baie hulpvaardig.  Ons het ons verblyf terdee geniet en sal weer hier kamp.

Punt toegeken  -  8/10 

Kliek hier vir Swadini fotos

CHRISSIESMEER

GENESARET

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Ons sal beslis nie weer hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10 

Kliek hier vir Chrissiesmeer fotos

GRASKOP

PANORAMA RUSKAMP

Laaste besoek  - 2019

Kommentaar  -  Die Oord is net twee kilometers buite Graskop, reg op die platorand, met 'n lieflike uitsig vanaf die swembad area. 'n Paar van die chalets deel hierdie uitsig. Die kantoor dien ook as klein winkel en die restaurant is net langsaan.

Die staanplekke is op terrasse, is gelyk en grasbedek.  Hier is groot bome en die voorste staanplekke het ook 'n mooi uitsig.

Die ablusieblokke is skoon en netjie met skottelgoed wasplek, maar geen plek om wasgoed te was nie.

Huishoudelike kragproppe voorsien elektrisiteit en lyk goed.  Ons het nie die krag getoets nie, en het ook nie toegang tot die verdelersboks gehad nie.

Die Oord is baie netjies en skoon en die geheelbeeld baie goed.

Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Panorama fotos

HAZYVIEW  (Naby Kruger)

NUMBI HOTEL

Laaste besoek  -  2005

Kommentaar  -  Ons het net een nag in die park oorgebly. Die staanplekke en ablusieblok is aanvaarbaar, maar daar was 'n Sjebien agter die grensmuur wat ons die hele nag wakker gehou het.  Ons sal nie weer hier oorbly nie.

2015

(Ons het baie goeie verslae van kampeerders ontvang, wat hulle verblyf hier terdee geniet het.  Daar is blykbaar nou ook goeie toegangsbeheer, goeie omheining en wagte om die park op te pas. Doen navrae hieroor en besluit dan self0

Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  www.hotelnumbi.co.za

KOMATIPOORT

KOMATIPOORT MUNISIPALE KARAVAANPARK

Laaste besoek - 2006

Kommentaar  -  Die park was in 'n haglike toestand en normaalweg sal ons nie weer hier kampeer nie. Dit is egter strategies gelee vir jou Mosambiek en suidelike Krugerwildtuin besoeke.  Verwag die ergste en bly net vir 'n nag.

Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.caravanparks.com 

KOMATIPOORT

MARLOTH KARAVAANPARK

Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

KRUGER NASIONALEPARK
ALLE PARKE
Laaste besoek  -  2006
Kommentaar  -  Ons groepeer sommer almal saam, omdat jy nie hierheen kom vir die kampe nie, maar om die wildtuin te besoek.  Daar is beslis uitsonderings, maar hulle het byna almal die volgende in gemeen:
Hulle besprekingsdiens is sleg – Jy sal verseker word die kamp waarheen jy wil gaan is vol, neem maar die volgende een, maar as jy daar kom is jou uitsoekpark leeg.  Die meeste kampe se staanplekke is nie uitgemerk nie – jy staan waar jy wil.  Bring ‘n 30m verlengingskoord  vir krag.  Die grond is meestal te hard om penne in te slaan – bring ‘n elektriese boor met ‘n lang 6mm sementboorpunt – boor ‘n gat en slaan jou pen in. Die staanplekke by die grensdrade is gesog, want veral snags kom roofdiere dikwels om die kamp rondsnuffel – bring ‘n flits met ‘n sterk, helder straal.  Jy gaan baie ry, maak jou voertuig vol voordat jy daar aankom.  Die groter kampe het brandstof, winkels (duur) en eetplekke – doen jou huiswerk as jy bespreek.
Die ablusiegeriewe is oor die algemeen goed en skoon, maar word druk gebruik – daar is gewoonlik ‘n mop beskikbaar om mee skoon en droog te maak.  Daar is stowe by hulle opwasgeriewe waar jy kan kosmaak.  Laastens is daar APE.  Sluit jou kos buite sig toe.  Hulle maak kaste oop, skeur seil- en skadudoekkaste oop en sal ook sommer kos van ‘n tafel af gryp, reg langs jou. 
Die Kruger Park is ‘n MOET DOEN – stel jou gesindheid reg in en geniet dit – dis ‘n fees.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  - www.sanparks.org 


MALELANE

HENK VAN ROOYEN HOLIDAY RESORT

Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

MIDDELBURG

DE VOETPADKLOOF RESORT

Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

NELSPRUIT

LAKEVIEW LODGE AND CARAVAN PARK

Laaste besoek - 2019

Kommentaar  -  Ons kamp nie hier nie, maar besoek net die karavaan op 'n Saterdagmiddag.  Die kort sandpad na die ingang en ook die stowwerige interne pad be-indruk ons nie.  Die teerpad van Nelspruit af is in 'n baie goeie toestand, sonder enige slaggate.  (Mei 2019)

Die staanplekke maak egter 'n baie goeie indruk.  Hulle is grasbedek, gelyk en jy kan kies tussen skaduwee of volson.  Elkeen het 'n huishoudelike elektriese prop, met 'n 20A breker - vertoon goed.  Almal het nie krane nie.  Hier is omtrent 'n honderd staanplekke.  Hulle het ook 'n boskamp, waar geen krag is nie, maar wel water.

Die twee ablusieblokke vertoon goed en alles is in 'n werkende toestand.  Hier is geen baddens nie, maar die storte is ruim en het 'n neersit plekkie. Warmwater word deur huishoudelike elektriese geysers voorsien.  In kontras hiermee, was die toilette by die dagbesoekers area nie na wense nie.

Die klein swembad was skoon en  die water helder. Die gronddam waar die plek se naam vandaan kom lyk ook goed.  Hulle het 'n permanente tent by die dam, waar funksies gehou word.  Hulle kroeg/restaurant vertoon goed en lyk netjies en skoon.

Hier is heelwat huisies te huur en dan ook 'n hele klompie permanente kampeerders, wat in hulle tente woon.  Die naaste groot winkels is so 10Km weg in Nelspruit.

Webwerf  -  www.lakeviewlodge.co.za

Tel  -  071 352 7458

Punt toegeken  -  5/10

Kliek hier vir Lakeview fotos

NELSPRUIT

NATURE'S GATE  (GESLUIT OP 1 Desember 2014)

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Die park is reg langs die N4 so 6 Km buite Nelspruit - en dit is ook sy grootste nadeel.  Die lawaai op die hoofweg stop nooit en selfs 'n dowe ou slaap hier min.  Die oord is op 'n groot perseel, meeste staanplekke redelik gelyk en sommige het skaduwee.  Die ablusieblok is klein maar modern, skoon en alles het gewerk.  Hier is ook talle huisies beskikbaar, 'n restaurant, swembad, kinderspeelplek en staproete.  Die personeel was vriendelik en behulpsaam.   Dit is regtig nie 'n slegte oord nie, maar die padgeraas is allesoorheersend en bloot vir hierdie rede sal ons nie weer hier kamp nie.

Punt toegeken  -  0/10

Kliek hier vir Nature's Gate foto

Webwerf  - GESLUIT OP 1 DESEMBER 2014

PELGRIMSRUS
PELGRIMSRUS KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  Ons het twee keer na die park gaan kyk, maa relke keer besluit om nie hier te kamp nie.
Punt toegeken  -  0/10
Webwerf 
- www.pilgrims-rest.co.za 

PIET RETIEF

SUNDOWNER CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Gerieflike oornag kamp met 20 staanplekke net noord van die dorp.  Hulle het ook 18 chalets,sportskroeg en restaurant op die perseel. Die ablusies is oud maar skoon.

E-Pos  -  sundowner@lantic.net

Tel  -  017 826 0885 / 082 325 5720

Punt toegeken  -  5/10

SABIE
MERRY PEBBLES KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  Ons het nie in hierdie park gebly nie, maar by die munisipale park reg langsaan.  Die munisipale park se tariewe was ‘n derde van die van Merry Pebbles, en hulle fasiliteite nie veel beter nie. Daar is niks verkeerd met die park nie en as hulle bure agteruitgaan, trek net oor die spruit hierheen.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.merrypebbles.co.za

Sabie
CASTLE ROCK KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  ‘n Munisipale park net buite Sabie op die wal van ‘n standhoudende spruit.  Dit is bosbou wereld en baie mooi.  Die park is groot met groot gelyk staanplekke wat grasbedek is. Daar is ‘n paar  skadubome beskikbaar. Jy moet ry winkels toe, dis net net te ver om te loop.  Die ablusies is oud maar goed onderhou en skoon. Daar is pragtige staproetes en watervalle in hierdie area en jy sal min tyd in die park deurbring.
Die groot lekkerte hier is egter jou kampvure saans.  Daar is ‘n onbeperkte hoeveelheid dennehout -  afvalstukke van die saagmeulens af - beskikbaar.  Ons het saans sommer in twee rug aan rug braaie vuurgemaak en die hele aand vuur gemaak.  As jou kole op raak trek jy om en gooi weer hout op die eerste een.  Geniet Sabie en omgewing.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.sabie.co.za 

WATERVAL BOVEN

ELANGENI HOLIDAY RESORT

Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye" 

WITRIVIER

BENMARI OORD

 Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons kamp hier gedurende Meimaand en geniet die heerlike weer terdeë - windstil en warm dae en net koel genoeg saans om lekker te slaap.

Hier is net vier staanplekke, waarvan twee skadudoek dakke het. Elke staanplek het sy eie badkamer en kombuis;  met 'n stofie, yskas en wasmasjien.  Hierdie en jou braai word elke weeksdag skoongemaak.

Die staanplekke is gelyk, internepad gesement en die oop spasies onder gras.  Die klein swembad silwerskoon en die tuin baie netjies.

Ons staan die meeste van die tyd alleen hier, maar die kleinhoewe so goed omhein dat ons glad nie onveilig voel nie.

Die R40 pad is naby die Park, maar die plante demp die padgeraas baie goed en is beslis nie saans 'n probleem nie.

Die eienaars is "hands on" en baie vriendelik - Ben maak byna elke dag 'n draai by ons karavaan vir 'n geselsie.

Ons sal beslis weer hier kamp.

Punt toegeken  -  7/10

Sien ook  kommentaar  van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

TERUG NA BO

Make a free website with Yola