Translate This Page

 NOORDKAAP

ALEXANDERBAAI

BRANDKAROS KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2021

Kommentaar  -  Hierdie is die laaste groen wereld voor jy die Richterveld aandurf.  Dierdie park is op 'n werkende plaas, wat aan die Oranjerivier grens.Die park is 'n entjie van die rivier af, maar ons het sommer afgestap daarheen.  Mooi stuk rivier daai.

Hulle verbou hoofsaaklik druiwe, lusern en mielies op die plaas, wat natuurlik help on daai groen wereld te skep.

Die park word deur Attie bestuur en onderhou en is 'n lus vir die oog. Hierdie woestynwereld en om op groengras te kamp is 'n voorreg. Gras,blomme en bome gedy hier in skrille kontras met die klipwoesterny .

Staanplek opervlakte wissel van gras en sement tot sand.  hier is ook volson tot volskadu staanplekke. Krag en water is beskikbaar. die ablusies is ou, maar werkend en skoon. Warmwater het nooit opgeraak tydens ons verblyf hier nie.  Onthou dat meeste kampe in die Rivhterveld nie warmwater het nie, en geniet die luukse hier.

Hier is ook 'n koppie wat jy met 'n 4X4 kan uitry of opstap, vanwaar jy 'n pragtige uitsig het oor die groen lande aan die eenkant, met die rivier en Naminia in die agtergrond.  Aan die anderkant roep die woestyn jou.

Ons het drie nagte hier gekamp en was so tevrede dat ons alweer hier gaan oorbly het.

Kliek hier vir Brandkaros fotos

Punt toegeken -   7/10 (Boskamp)

ASKAM

KALAHARI TRAILS NATURE RESERVE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die 3000ha plaas waarop die kampterrein is, behoort aan Proff Anne Rasa.  Sy het drie doktors grade en een van die beste spoorsnyers in die kontrei.  Sy is die spil waarom alles draai en ook die hoofrede waarop ons hier gekamp het.  Sy is wereld bekend as ‘n gogga, dier en plantkundige.  Sy neem jou (teen ekstra betaling) op ‘n oggend  lesingstoer op die duine.  

Die kamp self bestaan uit 4 rietkrale, gedeeltelik bedek met rietdakke en ‘n baie klein ablusieblok. Ons kon ons tent onder die afdakkie opslaan en die bakkie het ook gedeeltelik in die skadu gestaan.  Die staanplekke is groot, gelyk en met ‘n rooi kalaharisandvloer.  Die rietmure het die wind deeglik in toom gehou en die rietdakkie het ook sy ding gedoen.  Die ablusieblok bestaan uit twee kamers waarin twee storte, ‘n toilet en wasbak ingepas is, vir hie mans en vrouens afsonderlik. Buite is ‘n skottelgoed was area asook ‘n braai area.  Die plek is maar skeef en krom en die gasgeyser, wat in die manskant sit, het geen skoorsteen nie.  Los die buitedeur oop as die geyser werk.  Die storte het geen ophanghakke nie, en ook geen neersit plek of aantrekseksie nie.  Die hele opset is maar primitief, maar was elke dag goed skoongemaak en was netjies.

Die kampterrein as ‘n geheel is primitief, maar jy bly nie hier vir die kampering nie, maar om die Proff se kennis te beleef en ook om lekker lang ente op jou eie in die veld te stap.

Punt toegeken  -  As kampplek  2/10  As algehele besoekwaarde 8/10

Webwerf  -  www.kalaharitrails.com    

Kliek hier vir Kalahari Trails fotos

ASKAM

TWEE RIVIEREN RUSKAMP

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  - ‘n Nasionale Parkeraad oord binne die Kgalagadi Nasionale Park.  Die pad tot by die hekke is geteer en in ‘n goeie toestand in 2013.  Die sowat 500 meter grondpad van die hek tot by die kampterrein was ook in ‘n goeie toestand.  Die terrein het ‘n rooisand oppervlakte, maar is nie te stowwerig nie – die sand skud maklik af. Staanplekke is nie afgemerk nie en word dus nie vooraf aan jou toegeken nie.  Jy kamp doodeenvoudig by die naaste kragpunt waar daar skaduwee is.  Dit het goed gewerk tydens ons besoek.  Die kamp was elke aand vol, maar jy word nie verdruk nie.

Hier is ‘n paar skadubome en ook hout afdakkies wat help met die son.  Baie asblikke en braaiplekke is beskikbaar, maar nie baie krane nie.  Hier is ook ‘n afdeling vir die hardebaard manne wat nie elektrisiteit benodig nie, maar in hierdie area was baie oop spasies.

Die ablusieblok behels mans- en damesafdelings, wasgoedbalies, skottelgoedwasplek, strykkamer, wasgoeddrade, rolstoel seksie met stort, wasbak en toilet en dan ‘n familiebadkamer waarvoor jy ‘n sleutel moet bekom.  Hierdie outjie het ‘n bad en stort in.  Warm water aan die dameskant was ‘n konstante probleem, maar voldoende aan die manskant.  Die ablusieblok is goed ontwerp met genoeg spasie, hang- en neersitplek en alles het goed gewerk.  Die skoonmaak proses was nie so goed nie.  Soms kom die skoonmakers eers by etenstyd daar aan – hulle maak seker eers die chalets skoon.  Ons het nie hieroor gekla nie, aangesien ons soggens vroeg al gaan rondry het, maar dit is darem nie heeltemal aanvaarbaar nie.

Die winkelvoorraad het ons verstom, daar is iets van alles.  Pryse is natuurlik hoer as in die stede, maar neem in ag dat alles van Upington (250km) aangery moet word.  Die wegneemetes was goeie waarde vir geld en die kos smaaklik.  Ons het nie in die restaurant ge-eet nie, maar dit lyk oulik en hulle het ‘n goeie menu.  Pryse hier is taamlik hoog.

Jy kan die park in ‘n gewone sedan moter besoek as jy in die Suid Afrikaanse gedeelte bly.  Die paaie het op plekke lossand, maar nie genoeg om in vas te val nie.  Die sinkplaat is op plekke baie erg en ons het die bakkie se wiele na 1.3 bar afgebring om nie ons tande uit te skud nie.

Die personeel was almal vriendelik en behulpsaam en ons kamp hier heel lekker.  

Punt toegeken  -  6/10

Webwerf  -  www.sanparks.org

Kliek hier vir Twee Rivieren fotos

CALVINIA

PERDEPOORT KAMPTERREIN (TANKWA KAROO NAS PARK)

lAASTE BESOEK  -  2018

kOMMENTAAR - 

Kliek her vir fotos van Perdepoort


AUGRABIES ( naby KAKAMAS)
AUGRABIESVALLE  NASIONALE PARK
Laaste besoek  -  2011
Kommentaar  -  Ons het nog elke besoek hier geniet en sal weer en weer  gaan. Jy kan net die suidelike gedeelte van die park van hier besoek – daar is nie ‘n brug oor die Oranjerivier in hierdie area nie.
Die park is tussen bome, maar nie baie skadu is beskikbaar nie.  Die staanplekke is gelyk, maar is glad nie afgemerk nie – soek jou eie plekkie. Daar is krane op die oopgebied tussen die staanplek- areas, geboude braaiplekke en ‘n paar ligte.   Bring ‘n lang verlengingskoord – daar is genoeg kragpunte maar miskien nie naby jou skaduboom nie.  Jy staan op harde grond wat nogal stowwerig is.  Pasop vir die pendorings wat van die bome afval – dit het ons ‘n band gekos.
Die ablusieblokke is oud en word nie goed onderhou nie, maar word skoongehou.  Dit was nogal ontstellend tydens ons laaste besoek dat daar slegs kokende water in die een blok was – al die koue krane en selfs die toiletbakke se water was kokend.  Toe ons kla sê hulle dat hulle weet, maar hulle “handyman” weier om dit reg te maak, want hy het nie die probleem geskep nie.  Nogal tekenend van wat verkeerd gaan in al die nasionale en provinsiale parke.
Daar is ‘n winkel op die perseel wat redelik goed gestok is, maar bring maar jou voorraad saam of koop in KAKAMAS, dis baie goedkoper.  Besoek ook dan die PIENK PADSTAL net buite Kakamas- veral die manstoilet.
Hierdie is insek wereld – bring genoeg Doom en Peacefull Sleep, dit help ook bedags vir die muggies.

Tweede besoek 2013  -  Die warmwater fiasko is darem opgelos en die kombuisarea lyk ook beter.  Nog steeds baie goed as jy die valle en wildtuin verken.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.sanparks.org 

Kliek hier vir Augrabies fotos

BRITSTOWN

KAMBRO ACCOMMODATION

Laaste Besoek  -  2006

Kommentaar  -  Die padstal en park is so 20km noord van Britstown.  Hulle het 6 staanplekke en 3 chalets agter die padstal.  Die staanplekke is gelyk en grootgenoeg vir 'n oornag kamp. Die staanplekke het gras op en daar is n paar koeltebome.  Die ablusieblok was skoon en netjies. Ons het net hier oornag en sal dit beslis weer doen.  Ons het die park net na goeie reens besoek en toe was die muskiete erg.  Onthou jou insekweermiddel.

2014

Ons besoek weer die Padstal, maar kan ongelukkig nie oorbly nie - ons moet dringend by Pearly Beach uitkom.  Ons is egter weer be-indruk deur die vriendelike personeel en netheid van die hele area.  Alles is silwer skoon, die gras groen en netjies en die koeldrank yskoud.  Die area daar is droog, as jy indraai lyk dit maar net soos 'n regte Karroo-opstal en glad nie na die baie goeie kuirplek wat dit is nie - hou stil en gaan kyk self.  Jou woonwa sal sommer homself afhaak om vir die nag te rus.

Punt toegeken  -  6/10 (net vir oornag)

Webwerf  -  www.kambroaccom.co.za

Kliek hier vir Kambro fotos

BRITSTOWN

Rooidam Cottages

Laaste besoek  -  2021

Kommentaar  -  Ons soek laatmiddag 'n oorstaanplek naby Britstown en word na Rooidam verwys.  Andre, die plaaseienaar gaan uit sy pad uit om ons na die plaas te beduie.  Hy stuur drie verdere boodskappe om seker te maak ons kom reg.  Hy kry ons by die plaashek en neem ons tot by die staanplek naby die plaasopstal. 

Al die staanplekke en ander akkommodasie is naby die plaashuis, maar ons naaste bure is so 40 meter weg.  Alles is stil en donker as die son sak.

Ons was bly om net 'n oornag plek te kry, want hierdie is die geweste se hoogseisoen. Wat 'n voorreg om daar te kom en 'n staanplek te kry met krag, drinkbare water en nog 'n privaat badkamer ook.

Die badkamers is in netjiese Wendy huisies, silwerskoon, netjies en alles werk.   Kyk gerus na die fotos om die badkamer te waardeer.

Ons moet ongelukkig dringend in Port Elizabeth uitkom en oornag net hier. Ons sal beslis weer hier aankom om Andre se aanbod, om op die plaas rond te dwaal, op te neem.

Punt toegeken  -   8/10(Plaas)

Kliek hier vir Rooidam fotos (Fotos in swak lig geneem)

Tel -  084 491 0142

CALVINIA

CALVINIA KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2006
Kommentaar  -  ‘n Klein munisipale park in die middel van die dorp.  Hierdie is ‘n oornag stop en as sulks aanvaarbaar.  Daar is nie iemand aan diens nie, maar jy bel die nommer op die hek en die dame kom sluit oop vir jou.  Ons het heel goed hier oornag.  Die staanplekke is gelyk en jy kan maklik oorstaan sonder om jou karavaan af te haak.  Die ablusiegeriewe is aanvaarbaar, maar was maar stowwerig.  Hulle het wel die volgende oggend kom skoonmaak en ons aanvaar dat dit ook gedoen sal word as jy vroeër daar aankom – ons het na werksure ingeboek.
Daar is ‘n paar skadubome en buite die blommeseisoen sal die park baie stil wees en jy kan staan waar jy wil.  Binne die blommeseisoen en wanneer hulle hul jaarlikse fees hou moet jy bel en bespreek.
Punt toegeken  -  5/10 

Webwerf  -  www.northencape.org.za

CALVINIA

DIE KLIPWERF RUSKAMP

Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

 COLESBERG

ONZE RUST GUESTHOUSE & CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2014

Kommentaar  -  'n Baie rustige en goedversorgte oornag kamp teen die kant van die dorp en binne loopafstand van die winkels.  Die staanplekke is almal gelyk en was groot genoeg dat ons nie ons Penta en Bakkie afgehaak het nie.  Daar is ook kleiner staanplekke wat net geskik is vir 'n tent - maak dus seker dat jy 'n groot genoeg staanplek bespreek.

Die plek is redelik kompak en jy is dus nooit te ver van die  ablusieblok nie. Die geriewe is redelik modern en was pragtig skoon en netjies - selfs blomme aan die manskant.

Hulle het ook huisies te huur as jy nie wil afpak nie.

Daar is 'n heining om die kamp en die hekke word snags gesluit - as jy baie vroeg wil vertrek moet jy maar vooraf reelings tref.

Ons het net oornag gestaan, maar was baie tevrede met die plek en sal beslis weer daar oornag.

Punt toegeken  -  7/10 (Net oornag)

Telefoon  -  051 753 0249

Kliek hier vir Onze Rust fotos

GARIES

GARIES KARAVAAN PARK
Laaste besoek  - 2005
Kommentaar  -  Net oop in die blommeseisoen,  maar die slegste park wat ons ooit in was. Het net een nag hier gebly, bloot ondat ons te moeg was om verder te ry.  Moet dit onder geen omstandighede besoek nie.

TWEEDE BESOEK  -  2013

Ons het weereens nie hier gekamp nie, en sal ook nie. 
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar

GARIES

NAMAKWA NASIONALE PARK (SKILPAD)

Sien onder Kamieskroon

GROBBLERSHOOP

WITSAND NATUURRESERVAAT

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -   Hierdie is een van die Noordkaapse reservate en Sanparke asook die ander provinsiale regerings kan maar hier kom kersopsteek.  Die reservaat is wel klein, maar al die verbeterings is sinvol beplan, met sorg en duursaamheid  opgerig en die onderhoud is pynlik netjies.  Net ‘n bul met ‘n seer tand saL hier kan foutvind.

Die 70+km grondpad vanaf Grobblershoop of Olifantsfontein maak hierdie ‘n boswa - of tentbestemming.  Die toegangsroetes asook die interne paaie is wel toeganklik vir ‘n sedanvoertuig, maar bestuur versigtig.

Blyplekke bestaan uit 10 luukse chalets met lugreeling, groepakkommadasie vir skole ens., asook die 10 staanplek kampeerarea.  Die staanplekke is redelik gelyk en daar is heelwat skadubome.  Kalaharisand is jou vloerbedekking en pasop maar vir dorings van al die bome.  Elke staanplek is met bome begrens vir privaatheid en beslaan ‘n groot area waar jy kan besluit waar om huis op te sit.  Ons het tussen en onder die bome gekamp en was baie tevrede met ons kamp.

Die ablusieblok is in die middel van die kamp geplaas en redelik naby al die staanplekke.  Die ablusieblok is werklik luuks, was silwer skoon, met hope warm water.  Toiletpapier en handeseep is voorsien.  Die skottelgoedwasarea was ook silwerskoon en die wasgoeddraad vir jou handdoeke onderdak en weggesteek.  Onthou net om ‘n blouprop te bring vir elektrisiteit en ‘n koord van minstens 30 meter.

Dit is ‘n naruurreservaat en muishonde, eekhoringkies, meerkatte en ‘n musseljatkat het ons tent kom besoek, maar het gou die wyk geneem toe hulle geen kos kon vind nie.

Die reservaat word hoofsaaklik besoek om na die brulsand te kom kyk en bietjie sandplank te ry.  Dit is dan ook ‘n besoek werd.  Hier is wel diere, maar ons het net springbokke en ‘n paar gemsbokke raakgeloop.  Die voellewe is veel beter en kan jou beslis besighou.

Ons het ons tweedag kamp hier geniet en wens regtig dat ander Staats- en Provinsiale-instansies hier wil kom kyk hou lyk goeie bestuur.

Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Witsand fotos

Webwerf  -  wwwhttp://www.witsandkalahari.co.za


KAKEMAS

KAKEMAS KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie kamp bestaan nie meer nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie.

KAKEMAS (26 Km grondpad na Riemvasmaak)

KHAMKIRRI  OORD

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie hier gekamp nie, maar die park op ‘n Maandagmiddag besoek.

Die grondpad van sowat 26km was erg sinkplaat en baie stowwerig – ons sal beslis nie ons Penta hierheen sleep nie.  Vir die boswamanne en tenters is die park beslis ‘n besoek werd.

Die ontvangs was werklik vriendelik en die jong bestuurder  het dadelik sy werk gelos om ons te ontvang en ook later die kroeg spesiaal oopgesluit sodat ons ‘n kouetjie kon drink.

Die oord bestaan uit luukse chalets, luukse tente, tente met net beddens in en dan ‘n groot kampeerarea.  Die staanplekke is groot en gelyk, met gras bedek en daar is ‘n paar groot koeltebome.  Die beste staanplekke is beslis op die rivieroewer, maar die eerste klompie is ver van die ablusieblok.  Sommige staanplekke het lekker groot geboude braaie, maar daar is ook los braaidromme beskikbaar.

Die ablusieblok is sentraal gelee en het aparte afdelings vir die toilette en storte/baddens.  Dit is goed ontwerp met al die nodige, maar is beslis nie luuks nie.   Dit was nogal teleurstellend dat daar op daardie stadium nog geen skoonmaakwerk gedoen is nie.  Dit is so dat die kamp leeg was, maar ons het getwyfel of al die aanpaksels van die naweek was.  As ons op daardie stadium daar gekamp het, sou ons beslis gekla het.

Die rivier word goed benut, met die oewerstaanplekke,  groot ontspanningslapa en kroeg.  Watersport is ‘n groot item hier en daar was allerhande bote en kanoes beskikbaar.   Die park is in ‘n groot private wildtuin, wat aan die Augrabies Nasionale Park grens.

Hierdie park is beslis ‘n besoek werd – onthou net dat uiterste temperature hier voorkom en dat die berugte Oranjeriviermuggies ‘n groot verpesting is.  Kom goed voorbereid.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.khamkirri.co.za 

Kliek hier vir Khamkirri fotos

KAKAMAS
DIE MAS VAKANSIE OORD
Laaste besoek  -  2006
Kommentaar  -  Die park is op ‘n werkende druiwe plaas, met hul eie klein wynkelder.  Die plaas is op ‘n eiland in die Oranjerivier.  Ons was die enigste kampeerders daar, maar  van die chalets was in gebruik. Die staanplekke is informeel en ons het lekker in die skaduwee en op ons eie gekamp.  Dit is ‘n lekker  plek vanwaar hierdie baie interesante gebied  verken kan word.  Wees net gewaarsku, hierdie wereld kan bitter koud en warm word.  Hierdie is ook muggie wêreld in die somer – kom voorbereid.  Daar is twee toegangsroetes, maar gebruik die een vanuit Kakamas se Hoofstraat – dit is ook grondpad,  maar word in ‘n baie goeie toestand gehou.

TWEEDE BESOEK MAART 2013

Ons wou vir 6 weke hier oorbly, maar het na twee dae vertrek.  Die musiek en geraas vanaf die dagbesoekersarea was net eenvoudig onaanvaarbaar.

Punt toegeken  -  7/10  Aangepas  -  3/10

Webwerf  -  www.diemasvankakemas.co.za

Kliek hier vir Die Mas fotos

KAKEMAS

RIEMVASMAAK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar - Hier is nie kampeerplek nie, maar slegs huisies beskikbaar.  Ons sluit die Oord hierby in, want die plek is beslis 'n besoek werd.  Let wel dat 'n padwa nie ongeskonde hier sal in en uit kom nie. 

Die pad is bitter sleg op plekke en ook ver weg van gewone winkels.  Sorg dat jy selfvoorsienend is om probleme te vermy.

Die huisies was almal skoon en netjies en volledig toegerus.  Die swemgat was goed versorg en skoon.  Soos die mense maar is in die kontrei, was almal vriendelik en hulpvaardig.

Kliek hier vir Riemvasmaak fotos

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie - geen kampeering.

KAMMESKROON
KAMMESKROON HOTEL EN KARAVAAN PARK
Laaste besoek  -  2006
Kommentaar  -  Ons het nie hier gekamp nie.  Die kamp is net ‘n oop stuk grond atger die hotel en die geraas vanaf die hotel het ons nie aangestaan nie. Die nabye Hoofpad raas ook lekker.
Dit is egter prima blommekyk- wereld en mag dalk aanvaarbaar wees vir ‘n oornag staanplek.

TWEEDE BESOEK  2013.  Ons het weereens besluit dat hiedie kamp nie vir ons is nie.Ons het maar weer liewers verby gehou.

2021   Derde besoek. 
Punt toegeken  -  3/10

Webwerf  -  www.kamieskroonhotel.co.za

KAMIESKROON

NAMAKWA NASIONALE PARK

KORINGKORRELBAAI / KWASS / DELWERSKAMP

lAASTE BESOEK  -  2013

Kommentaar  -  Daar is 'n hele paar seekampplekke in die park wat bitter min van mekaar verskil, maar hierdie is vir ons die beste en kan ook met 'n bakkie of motor met goeie grondvryhoogte bereik word.  Die meeste paaie is baie skurf, vol gate en sinkplaat en jou spoed sal maar by 60 kpu wees.  As dit reen is van hulle amper onbegaanbaar en jy moet die Parkeraad by Skilpad kontak voor jy hierheen kom.

Koringkorrelbaai en Kwass bereik jy van die noordekant, terwyl jy Delwerskamp van die suidekant benader.  Daar is so 'n 5 km strook in die middel tussen Kwass en Delwerskamp waar jy net met 'n hardebaard 4X4 kan ry en dan ook verkieslik met meer as een voertuig.  Moet dit nie met 'n 4X2 met "diff lock" aanpak nie.

Hier is geen selfoon ontvangs, water, ablusiefasiliteite of elektrisiteit nie. Daar is slegs 'n paar windbrekermuurtjies, klipring vir braaivure en Enviro Loos beskikbaar.  Jy moet absoluut selfversorgend wees en ook weer jou gemors wegry.  Hierdie plekke is vir die tent- en boswamanne bedoel. Die batekant is die pragtige natuurtonele, lekker visvangareas, kreef en oesters.  Onthou jou permitte en ook toe seisoene, Die parkeraad manne hier het geen genade nie.  Jou naaste dorpe is Kamieskroon en Garies, alby so 'n uur plus se ry ver.  Jy kan ook net basiese voorraad op hierdie dorpe bekom.

Permitte en verblyfkostes moet by Skilpad gereel word.  Veral as jy aan die suidekant gaan kamp, sal dit jou omtrent 2 ure van Skilpad na jou kampplek neem om te ry.  Onthou ook dat die seewater bitter koud is hier en terwyl die dagtemperatuur na 40 grade kan styg, dit snags koud word, selfs in die somer.  Ons vind ook dat 'n 3mm duikpak hier te lig is, gebruik 'n 5mm, of nog beter 'n 7mm duikpak.

Buite die blommeseisoen (Augustus/September) kom hier baie selde mense en is jy op jou eie.  Hier is niemand om te help met 'n probleem nie en moet jy 'n satelietfoon besit as kommunikasie vir jou 'n moet is.  Maak ook seker dat jou mense weet waar jy is en wanneer jy weer terug sal wees.  By Delwerskamp is die Groenriviermond hek binne stapafstand, maar as jy by Kwass of Koringkorrelbaai kamp is jy meer as 'n dagstap van die naaste mense.

Punt toegeken  -  2/10 (Boskamp)

KLIEK HIER vir Namaqua fotos

Webwerf  -  www.sanparks.co.za

KAMIESKROON

VERBE KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Die park is net binne die dorpsgrens, langs die Polisiestasie.  Veral die uitsig op Boesmanskop is pragtig.  Daar is 'n verbyloop by die punt naaste aan die hek, en ons is die eerste dag nogal lastiggeval, ons het dit bloot ge-ignoreer en van dag twee is ons ook alleen gelaat.  Jy kan dit egter voorkom deur bloot op die agterste deel van die kamp te bly.  Jy kan nie 'n staanplek bespreek nie en moet dalk liefs nie laat in die dag opdaag gedurende die blommeseisoen nie, dan moet jy vat wat jy kry.

Die park is tipies Noordkaap, geen gras, redelik min skaduwee en brakwater. Die staanplekke is redelik skuins, maar groot genoeg vir ons Palma en voltent. Die laaste paar staanplekke is ook op die oomblik sleg verspoel.   Daar is 'n lig en kraan vir elke vier staanplekke.  Elkeen het 'n geboude braai.  Die grond op ons staanplek was so hard dat ons moes gate boor om die penne in te kry (ala Krugerpark).  Niks roer jou tent egter hierna nie en die wa bly ook gelyk.  Vir 'n oornag staan, sal ons bloot nie 'n tent opslaan nie en liewers die oulike klein lapa gebruik om in te kuier.

Die ablusieblok is egter van die beste.  Gaan kyk gerus na die fotos op ons Google Albums, hulle vertel die storie die beste - puik.  Onthou dat byna alle water hierlangs baie brak is - bring doepa saam om in die vrouensbad te gooi.  Die manne stort - tuffstuff.  Drinkwater is beskikbaar in 'n reenwatertenk.  Ander water kom van hulle eie boorgat

Personeel was baie vriendelik en het ons ook van baie rondry en doendinge vertel.  Die dorpie is baie klein, maar jy kan al jou voorraad hier bekom. As jy langer hier bly sal die winkels ook vir jou goed bestel, indien moontlik.

Veldblomme in die dorp is gewoonlik vroeer as in die omgewing en is nou, middel Julie, pragtig.  Hier is pragtige agterpaaie om te ry en dit is ook naby die Namakwa Nasionale Park (ou Skilpadpark).  

Ons beskou Kammieskroon as die middelpunt van die blommewereld met mooi rypaaie is alle rigtings.  Onthou net dat hierdie wereld bitter koud word in die nag en ook baie warm in die somerdae - kom voorbereid daarvoor.  Die eienaars het ook 'n gastehuis op hulle plaas, as die weer jou onkant vang.

(Vir die taalpuriste, daar is 'n umla op die eerste e.

Besoek 2021  -  Aangename verrassing, die Park het nuwe eienaars en het beslis 'n groot verskil te weeggebring. Sommer by die hek en kantoor/winkeltjie het die wereld sommer stukke verbeter.Die terrein en paaie is skoon en netjies, die gronderosie is weg, staanplekke met paaltjies afgemerk en die kragpunte vervang.

Hulle het 'n kombuisie ingerig vir skottelgoed- en klerewas, water kook en kosopwarm met 'n mikrogolfoond.  Alles mooi skoon geverf en baie aantreklik versier.  

Die egpaar is regte mense mense, kommunikeer goed en doen ongevraag baie

moete om hulle gaste gelukkig te hou. Hulle het ook 'n oornag kamer by hulle huis beskikbaar

Punt toegeken  -  6/10   (2021  -  8/10)

Kliek hier vir Verbe fotos

Webwerf  -  NVT

KANONEILAND (Buite Upington)

MINOGAH KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons kon die park glad nie per telefoon kontak nie, en ook nie op Die Eiland vind nie. Ons vermoed dat dit nie meer bestaan nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie

Webwerf  -  NVT

KATHU

KHAI APPLE RESORT

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hulle was besig om die fasiliteite van die park op te gradeer en ons kon nie hier oorbly nie.  Jammer, want ons het goeie dinge van die park gehoor.  Sal beslis nog hier aandoen.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie

Webwerf  -  www.gamagara.co.za 

KEIMOES

DIE  PUNT  KARAVAAN  PARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  ‘n Klein plaas park op die walle van die Oranjerivier, halfpad tussen Keimoes en Kakemas.  Die staanplekke is nie afgemerk nie en jy staan by die kragpunt van jou keuse.  Daar is son areas, skaduwee asook gras en gruis areas. Die eienaar bly op die perseel en bedryf ‘n plaaswinkel net buite die park.  Daar is geen boerderyaktiwiteite by die park nie, maar trekkers en implemente word hier gehou.  Ons het dit nie steurend gevind nie.

Die rivierwal is so 2 tot 3 meter hoog, maar daar is redelike maklike afklim plekke en ons kon ons opblaasbootjie maklik in die water kry.  Die rivierbedding is rotsagtig en belemmer jou hengel, maar geelvis en onderbekke is volop.

Die ablusiegeriewe is oud maar voldoende en het selfs oor Paasnaweek bygehou. Daar is twee enkelbalie skottelgoedwasbakke en ‘n enkel wasgoedtrog.  Geen wasgoeddrade is beskikbaar nie.  Ons was deur die week die enigste kampeerders maar oor die naweke het ‘n paar bygekom.  Die ablusieblok word ongelukkig nie gereeld skoongemaak nie.  Dit het ons nie deur die week gepla nie, maar veral oor Paasnaweek was dit nie goedgenoeg nie.

Johans, die eienaar is vriendelik, en ons het lekker hier gekamp.  Die plaasatmosfeer en stilte is aangenaam.  Die kamp is nie luuks nie, maar ons sal beslis weer hier kamp.

Johans Thirion wil ook graag die kampterrein verbeter en het heelwat planne, wat hopelik in die nabye toekoms geimplementeer sal word.

Punt toegeken  - 6/10

Webwerf  -  NVT

Kliek hier vir Die Punt fotos

KEIMOES

IKAIA OORD

Kliek hier vir IKAIA fotos

KEIMOES

KALAHARI WATER OORD


-  www.kalahariwater.co.za 

KEIMOES

KEIMOES  KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie hier kamp nie.

Punte toegeken  -  0/10

Webwerf  -  NVT

KEIMOES

TKABIES  KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons wou die park oor Paasnaweek 2013 besoek, maar die toegangshek was gesluit en die telefoon nie beantwoord nie.

Ons weet nie of die park nog bestaan nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen.

Webwerf  -  NVT 


KIMBERLEY 
KIMBERLEY KARAVAANPARK EN OPEN MINE MUNISIPALE KARAVAAN PARK
Laaste besoek  - 2006
Kommentaar  -  Hierdie twee parke is regtig ewe treurig.  Tydens ons twee besoeke aan Kimberley was hulle vuil, sleg onderhou, sleg bestuur en sommer net onaanvaarbaar.  Hulle is reg by die Groot Gat en dus amper ‘n moet om by te bly as jy die Groot Gat kompleks besoek.  Moet egter nie bespreek nie – gaan kyk hoe lyk hulle op die dag en trek by die beste een in.
Punt toegeken  -  2/10
Webwerf 
-  www.solplaatje.org.za

KIMBERLEY

PALM PARK KARAVAANPARK

Laaste kontak  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie die park besoek nie, maar toe ek bel om te bespreek het die dame gese dat hulle nou slegs permanente inwoners toelaat.

Punt toegeken  -  0/10

KIMBERLEY

RIVERSIDE COUNTRY CLUB & KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2018

Kommentaar  -  Hoewel die oord onder Kimberley resorteer, is dit in werklikheid so 35 Km suid op die N17 geleë.  Die naaste groot winkels is dan ook in Kimberley, so onthou jou proviant. Hier is wel 'n snoepie by die oord en ook kleiner winkels by Modderrivier, so 5 Km weg.

Die oord is op die walle van die Rietrivier en 'n keerwal so 'n paar Km stroomaf verseker dat hier altyd baie water is.

Die Eienaars bestuur die oord met 'n ferm hand en alles is netjies, skoon en in 'n werkende toestand.  Die gras was kort en groen, die swembad skoon en die ablusieblok netjies en skoon.

Krane is maar skraps en alhoewel elke staanplek nie 'n asdrom het nie, was dit goed gespassieer.  Ligte is voldoende en die krag het reg getoets en nie afgeskop toe ons 'n tweeplaat stoof aangesit het nie.

Kyk gerus na die fotos en besluit self, maar ons sal beslis weer hier kamp.

Kliek hier vir Riverside fotos

Punt toegeken  -  7/10

KURUMAN

KURUMAN KARAVAANPARK 
Laaste  -  besoek  2003
Kommentaar  -  Hierdie park is die toppunt van vrot bestuur.  Die area is mooi, die park goed geleë in die dorp en die infrastrukruur heel goed.  Die kamp is egter ‘n oornagpunt vir lorriebestuurders en hulle, plus die dames van die nag remoer byna heel nag en bemors die plek vreeslik.  Daar is ook ‘n gedurige deurloop van ongure karakters.  Hulle het probeer om ons fietse helderoordag uit ons tent te steel en was heel parmantig toe Flip hulle verjaag.  Daar is ‘n plaaspark buite die dorp in Upington se rigting op die N14, wat blykbaar heel goed is. Ons was nie daar nie en kan nie kommentaar lewer nie, maar enieiets sal beter wees as Kuruman.

TWEEDE BESOEK MAART 2013

Ons vind die park nogsteeds in 'n onaanvaarbare toestand.  Ons het nie hier oorgebly nie, maar na Red Sands toe gegaan.  Sien hulle inskrywing.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

Kliek hier vir Kuruman fotos

KURUMAN

RED SANDS OORD

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar - Hierdie is 'n puik Oord en beslis beter as die een in Kuruman. Die hele terrein is netjies en die geboue spreek van kwaliteit.  Die ablusies is modern, skoon en netjies.

Ons gebruik 'n staanplek met private badkamer en geniet ons besoek en ook die restaurant.  Ons het nie 'n tent opgeslaan nie, want daai rooi stof kry jy baie moeilik uit die some uit.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Red Sands fotos

NIEUWOUDTVILLE

MATJIESFONTEIN GASTEPLAAS

Laaste besoek - 2021

KOmmentaar  -  Die staanplekke is net agter die bekende MAtjiesfotein Padstal en vorm deel van die plaas opset daar.  Ons sal nie ons Penta hierheen sleep nie, net oor die lang stofpad ; as jou wa stofdig is sal jy die pad maklik baasraak.

Drie van die staanplekke is onder reuse bome en het geboude braaiplekke.  Die ander staanplekke is op terrasse langs die ablusieblok.  Elke staanplek het 'n elektriese prop en water is ook beskikbaar.

Die ablusiegeriewe is in 'n ou sandsteen geboutjie , met 'n gehawende grasdak. Daar is twee, storte, wasbakke en toilette beskikbaar. Alles werk, maar is "rustic".  Meer 'n boskamp gevoel.

Ons glo nie hierdie is 'n groot misdaad area nie, maar let daarop dat hier geen veiligheid kenmerke is nie,  Buite die blommeseisoenmag jy dalk die enigste kampeerder wees.

Punt toegeken  -  4/10  (Boskamp)

Kliek hier vir fotos van Matjiesfontein

NIEUWOUDTVILLE
NIEUWOUDTVILLE KARAVAAN PARK
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Ons sal nie hierdie nie hierdie park besoek nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.nieuwoudtvillecaravanpark.co.za

OLIFANTSHOEK

MALA LODGE EN KAMPERING

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie park is reg lanks die N14, net wes van die dorp.  Net ‘n draadheining dien as verskansing.  Ons het nie hiervoor kans gesien nie en dus kan ons nie kommentaar lewer nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie

Webwerf  -  NVT

OLIFANTSHOEK

WITSAND NATUURRESERVAAT

Sien onder Groblershoop) 

ORANIA

AAN DIE OEWER KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2018 

Kommentaar  -  Draai by Hopetown weg op 'n teerpad na Orania.  Draai daar links en volg die roete-aanwysers.  Die stofpad in die dorpis, wel stowwerig, maar die oppervlakte goed.  Ry stadig, dan is die stof nie stof nie so 'm groot probleem nie.

Die Oord self is 'n lushof van groen gras en reuse bome.  Hier is slegs 10 staanplekke, so bespreek vroegtydig.   Die staanplekke is gelyk en meestal gras bedek.  Die grootes verskil heelwat.  Maak seker jy sal inpas as jy bespreek.  Krane, asdromme en los braaibakke is voldoende.

Die ablusieblok is klein, maar was silwer skoon tydens ons besoek.  Hulle gebruik gasgeysers en waterdruk is baie goed.  Ongelukkig is die storte redelik klein en pla die stortgordyn.

Die skottelgoed- en wasgoedarea is nie watwonders nie, maar alles, insluitende die muntklerewasmasjien, werk baie goed.

Die Kantoordame beman ook die Snoepie en besprekings vir hulle wateravonture. Huur 'n waterponie of reël 'n rit op die vlot - vetpret.

Hier is ook 'n hotel, spa en restaurant op die perseel.

Ons het ons tyd hier terdeë geniet en sal beslis weer hier kamp.

Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Aan Die Oewer fotos


Sien kommentaar van Chris Smit onder "Parke aanbeveel deur derde partye"

ORANIA

VLUYTJIESKRAAL RIVIERPARK

Laaste besoek  -  2018

Kommentaar  = Hierdie Karavaanpark is reg langs Aan Die Oeweroord met 'n bruggie wat hulle verbind.  Kampeerders kan ook die restaurant, snoepie en watersports van Aan Die Oewer gebruik.

Die area is redelik gelyk met heelwat gras en bome, reg op die oewer van die Oranjerivier.  Staanplekke is nie duidelik uitgemerk nie en wissel baie in grote.  Maak dus seker dat jy sal inpas wanneer jy bespreek.  Besprekings word deur Aan Die Oewer se kantoor behartig.

Die terrein is nie so goed soos sy buurman uitgelê en versorg nie, maar die klein ablusieblokkie is goed en die storte beslis baie groter.  Hier is ook 'n paar permanente inwoners.

Kliek hier vir Rivierpark fotos

Punt toegeken  -  4/10

Kontak - Pieter 082 897 0778

POFADDER

KLEIN PELLA VAKANSIE-OORD
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Die park is op ‘n werkende dadelplaas op die wal van die Oranjerivier en is ‘n MOET BESOEK.  Dit is ‘n belewenis om uit die dorre, klipperige wereld deur die Poort te ry en skielik is hierdie lowergroen dadelbome voor jou.  Hulle het ‘n paar selfsorg huisies en ‘n kampplek op naby die ontvangskantoor. Daar is ook 'n kanpplek, Daar is ook 'n kampplek verder aan op die rivier. Dit is prentjie mooi en ‘n kano is amper  ‘n moet.  Onthou dit is ‘n wereld van uiterste temperature en muggies – kom voorbereid.  
Moet nie met ‘n gewone karavaan die grondpad hierheen aandurf nie – hy gaan dit nie maark nie. Hierdie is boswa of tent wereld.  ‘n Sedan moter met redelike grondvryhoogte is in orde maar ry stadig.
Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Klein Pella fotos

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

POFADDER
KALAHARI KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Ons sal nie weer hier staan nie.  Van die B&B’s laat jou op hulle terreine staan.  Dit is ‘n baie beter opsie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  - Nie beskikbaar 

POFADDER/ONSEEPKANS

RAAP EN SKRAAP BOERDERY

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons sou vir 'n maand hier kamp, maar het ons besoek na een dag gestaak.  Ons kon net eenvoudig nie met die ablusiegeriewe vrede maak nie.  

Die kamp is op 'n reuse groot druiweplaas, op die walle van die Oranjerivier met pragtige natuurtonnele en onbeperkte stapgeleenthede.  Die gastehuis het ook 'n besondere indruk gemaak, en ons was effe jammer om van die uiters vriendelike kampbestuurder, Petro afskeid te neem.  

Kliek hier vir Raap en Skraap fotos

Punt toegeken  -  0/10

POFADDER

RUS-I-BIETJIE

Laaste besoek:  2021

Kommentaar - Hierdie klein karavaanparkie is in die middel van Pofadder in die agterplaas van 'n huis.  Dit is 'n idiale oornag plek met private ablusies vir elke staanplek. Die eienaar bly op die perseel en is heeldag doenig om skoon te maak en alles in orde te hou. Jou private badkamer sal goed inpas in enige gegoede huishouding.  Alles is nuut, modern en skoon. Pasop vir die stort, die water is baie warm, draai eers die kouewater oop.

Die staanplekke is nie afgemerk nie, maar die eienaar, James ontvang jou en kom help om op jou plek te kom. Ons het twee voertuie en ons Palma op een staanplek met gemak ingepas.

Die plek is omhein en daar is kameras wat die hele plek dek. Ons het geen probleme ondervind nie en sal beslis weer hier kamp.

Pofadder het genoeg winkels om jou proviant aan te vul. Die garage aan die regterkant soos jy die dorp van Kakemas se kant af inkom, verkoop lekker tuisgebak.

Die manne van Stoftrappers Safaritoere gebruik die park as en van hulle oornagpunte. As jy daai mooi ingerigte Land Cruiser sien, gaan maak kennis,vriendelike mense daai.

Punt toegeken  -  7/10 (Oornag stop)

Kliek hier vir fotos van Rus-I-Bietjie 

PORT NOLLOTH

MCDoUGALSBAAI KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  ‘n Munisipale park waarvan die bestuur veel  te wense oorlaat. Ignoreer die Stergradering vir hierdie park – dit verdien nie ‘n 3 ster gradering nie.  Daar is egter nie ‘n ander park hier naby nie en jy moet hier kampeer om die unieke wereld te verken.
Die park is reg op die see net buite Port Nolloth.  Daar is geen wind of son skaduwee nie – Maak jou tent oordentlik vas.  Die staanplekke is gelyk en groot genoeg.  Die ablusies is in ‘n treurige toestand.  Die nabye plakkers betaal ‘n klein fooi om die badkamers te gebruik,  wat ‘n totale gemors afgee.  Die goed is vuil, verbreek en net bruikbaar net nadat dit skoongemaak is.  Dit is een plek waar jy maar jou eie badkamergeriewe kan gebruik as jy dit het.
Nie bedoel vir ‘n lang bly nie – jou siel mag jou dalk net verlaat.

TWEEDE BESOEK 2013

Wat 'n aangename verrassing!!!  Die park is vergroot, ablusies opgegradeer en bykomendes gebou.  Die park is omhein en die ablusies word gesluit.  Daar is ook nuwe "skakelhuisies" gebou wat regtig mooi vertoon.  

Daar is ook heinings geplant om die ergste wind te breek.  Die personeel was vriendelik en klaarblyklik trots op die plek.

Ons kon nie vasstel wie die veranderings teweeg gebring het nie,  maar volle krediet aan wie dit ook al was.

Die wind gaan jou nog bykom en die see is nog yskoud, maar hierdie is nou 'n kampplek wat ons goedkeuring wegdra.

Onthou net om jou voorraad op Port Nolloth aan te vul - hulle winkels sal in al jou behoeftes kan voorsien.
Punt toegeken  1/10
  (Hersien 2013   6/10)

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

Kliek hier vir Marula fotos

 SPRINGBOK

GOEGAB NASIONALEPARK
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  Met ons laaste besoek was die kamparea nog nie klaar ontwikkel nie – slegs die selfsorg huisies was klaar gebou.  Dit het ‘n baie goeie indruk gemaak en is in so ‘n mooi gebied dat ons net wil noem dat die kampgeriewe nou voltooi is.  Ons sal dit beslis op ons volgende besoek aan hierdie area verken. 

TWEEDE BESOEK  -  2013

Groot teleurstelling, Julie 2013.  Dit is die begin van die blommeseisoen en die park is gesluit.  Blykbaar vir opgradering!!  Ons is net binne die park voorgekeer en aangese om om te draai - hulle bou 'n nuwe ingang en daarom is die hele park gesluit. Dit sal blykbaar voor einde Julie klaar wees en dan sal die park weer open, maar die karavaanpark is onbepaald gesluit vir 'n opgradering - dit net na 'n paar jaar se bestaan!!!!!  

DERDE BESOEK - 2021

Alles is nou oop en in werking. Die kampterrein is pragtig tussen die koppies uitgelê met 'n goed gegruiste oppervlakte. Die staanplekke is op die buitenste grense en sommige het skadudakkies. Die Ablusieblok is baie netjies en alles werk tydens ons besoek. Die kort stukkie gruispad kan maklik met 'n padwa gery word.  Let net daarop dat hier geen krag is nie.
Punt toegeken  -  7/10 (Boskamp, geen krag nie)

Kliek hier vir Goegap fotos

Webwerf  -  www.namaqualand.com


SPRINGBOK

NAMASTAD KARAVAANPARK

Laaste besoek  2021

Kommentaar  - Ons het nie hier gekamp nie , maar net die karavaanpark besoek. So 'n 4Km suid van Springbok kry jy die afdraai wat groot wys "Springbok Inn".  Draai af en dan ry jy by die Hotel se ingang verby. Die park is met 'n pragtige muur omhein.

Dit is net onder 'n klein rotskoppie en die terrein redelik skuins, maar die staanplekke is goed geskraap/opgevul sodat jou wa redelik gelyk staan. Al die staanplekke gaan nie jou dubbelaskaravaan plus tent en sellpvoertuig huisves nie, maak seker as jy bespreek dat jou sleepsel sal inpas.

ablusieblok is nie groot nie, maar baie modern en was silwerskoon op 'n Sondag middag. Kyk gerus na die fotos.

Daar is heelwat Wendyhuisies op die selfde terrein, alles netjies en skoon.

Ontvangs is by die Hotel, wat self nuut en heel aantreklik voorkom. 

Hierdie en Springbok Karavaanpark is sekerlik die twee beter oorde in Springbok en beide baie gewild.  Maak seker dat jy bespreek vir 'n besoek gedurende Augustus/September, die hoof blomme seisoen.  

Kliek hier vir Namastad fotos

Punt toegeken  -  7/10

SPRINGBOK

KOKERBOOM HOTEL EN KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2005
Kommentaar  -  Daar is ‘n paar staanplekke agter die hotel teen die grensdraad met die N7.  Die staanplekke is op gelyk gruis, het byna geen skaduwee nie  en kry al die padgeraas.  Ons het nooit probleme of geraas van die hotel ondervind nie, maar dit is altyd moontlik.  Die ablusies was aanvaarbaar en jy kan ook die hotel se fasiliteite gebruik.  Die park is so 3km buite die dorp.
Hier is nie te veel verkeerd nie, maar daar is geen siel in die park nie.  Jy kry nie ‘n vakansie gevoel nie. Gebruik die park net om te oornag, maar ons beveel aan dat jy ook na die nuwe karavaan park in die GOEGAP N/P gaan kyk.

TWEEDE BESOEK  2013  -  Ons het net gaan inloer en nie hier gekamp nie.  Niks lyk juis ander nie.

DERDE BESOEK - 2021

Nog steeds geen noemenswaardige veranderings nie, maar alles begin bietjie

moeg lyk.

Punt toegeken  -  3/10

Kliek hier vier Kokerboom Motel fotos.

Webwerf  -  www.jcbotha.co.za

SPRINGBOK

NAMAKWA NASIONALEPARK

Sien onder Kammieskroon

SPRINGBOK
SPRINGBOK KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  2011
Kommentaar  -  ‘n Private park net buite die dorp.  Dit is teen ‘n heuwel geleë en meeste staanplekke redelik skuins. Skaduwee is skraps en die ablusie geriewe ook maar so so. Verval van die infrastruktuur  is ooglopend.  Hulle selfsorg huisies lyk egter heel  gaaf.  Ons verkies hierdie park bo die Kokerboom, maar gaan kyk gerus na die staanplekke in die GOEGAP N/P.
Onthou dat hierdie gebied uiterste temperature beleef  -  ons het hier bitter koud gekry en in die somer amper gesmelt.  Hier is ook baie vlieë – kom voorbereid.

TWEEDE BESOEK  2013  -  Heelwat opknappingswerk is gedoen, en terwyl die ablusies nog steeds oud is, is dit geverf en silwerskoon.  Hulle het ook mildelik gruis in die kamp gegooi en dit vertoon baie beter. Hulle skottelgoedwasarea en wasmasjiene is ook opgeknap.
Punt toegeken  -  4/10

Kliek hier vir Springbok Karavaanpark fotos

Webwerf  -  www.springbokcaravanpark.co.za 

SUTHERLAND
STERLAND KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2011
Kommentaar  -  Dit is nie regtig ‘n park nie, maar ‘n paar staanplekke by die plaaseienaar se huis.  Die staanplekke is gelyk, grootgenoeg, is gegruis en daar is lanings bome tussen die staanplekke.  Die ablusiegeriewe is klein, maar word pynlik netjies versorg.  Hierdie is egter ‘n moet besoek, nie vir die park nie, maar om Jurgh (die eienaar) en sy vrou te ontmoet.  Hulle sout van die aarde en Jurgh is ‘n selfopgeleide sterrekundige.  Hy het ‘n spesiale gebou opgerig waar hy praatjies en DVD’s aanbied voor hy besoekkers na sy teleskope neem om sterre te kyk.  Dit is ‘n absolute fees en baie beter en lekkerder as ‘n besoek aan die groot teleskoop.  Hulle besit ook ‘n gaste huis en restaurant op die dorp, asook ‘n tweede plaas met selfsorg geriewe en twee lekker staproetes.  Moet nie hierdie bestemming mis nie.
Punt toegeken  -  8/10

Kliek hier vir Sterland fotos

Webwerf  -  Nie beskikbaar

UPINGTON

DIE EILAND VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2003

Kommentaar  -  ‘n Groot munisipale oord net buite die dorp op die walle van die Oranjerivier. Hulle het ‘n menigte selfsorg huisies en baie staanplekke.  Jy kan reg op die wal staan of verder terug.  Daar is gras, skadu en son staanplekke.  Die meeste is gelyk, maar onthou net dat die rivier gereeld die laer staanplekke oorspoel.  Hulle kry gewoonlik meer as ‘n week kennis van ‘n vloed  en sal jou betyds waarsku om te trek.
Ons het baie lekker hier vir ‘n maand gebly en sal dit weer doen.  Onthou net die uiterste temperature, vlieë, muggies in katte.  Bring PET OFF saam om aan jou tent te spuit.

TWEEDE BESOEK 2013  -  Ons het slegs na die kamp gaan kyk en besluit om nie weer hier te kamp nie.  Ons het met 'n klomp onlangse besoekers gesels en besluit dat daar beter  kamp-opsies in die omgewing is.
Punt toegeken  -  6/10
  2013  -  3/10

Webwerf  -   www.northerncape.com 

UPINGTON

EAGLE’S RIDGE

Laaste Besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons kon die park glad nie per telefoon kontak nie, en vermoed dat dit nie meer bestaan nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie

Webwerf  -  NVT

UPINGTON

ORANJERUS VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Hierdie is een van die min 4 Ster parke, waar ons volkome met die gradering saamstem.

Die park is tussen Kanoneiland en Louisvale gelee, jy het dus ‘n hele entjie om Upington toe te ry vir inkopies – waar meeste groot winkels verteenwoordig is.

Die park is op die walle van die Oranjerivier,  met pragtige groot oop groen grasperke onder die vloedlyn.  Die staanplekke is bo die normale vloedlyn, maar kry maar pakslae met daai een in ‘n honderdjaar vloede.

Die staanplekke is lekker groot op groen gras, met ‘n keuse tussen skadu of son.  Die kragnetwerk is puik en hulle gebruik blou plugs.  Die twee ablusieblokke is mooi netjies en was silwerskoon.   Dit vertoon regtig “upmarket”, met genoeg pak- en hangplek.  Hulle was besig om oor te skakel na hoedruk songeysers, sal seker so einde April 2013 afgehandel wees.

Ons het ongelukkig nie in die restaurant ge-eet nie, maar dit vertoon goed en het ‘n pragtige uitsig oor die rivier.

Ons sal beslis hier kamp, die atmosfeer is puik, die hele oord baie netjies en goed versorg.  Die personeel was vriendelik en behulpsaam – wat meer kan jy vra.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  - www.oranjerus.com 

Kliek hier vir Oranjerus fotos

UPINGTON

RIVER RIDGE RESORT

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons kon die park glad nie per telefoon kontak nie, en vermoed dat dit nie meer bestaan nie.

Punt toegeken  -  Nie gedoen nie

Webwerf  -  NVT

UPINGTON

SAKKIE SE ARKIE

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie op hierdie oomblik daar kamp nie.

Die park word van die munisipaliteit gehuur, en is in 'n treurige toestand. Ons verneem egter dat die huurkontrak hernu is en dat daar 'n groot opknappingspoging sal gebeur.  As dit realiseer en goed gedoen word, sal hierdie beslis 'n goeie besteming wees.

Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.arkie.co.za

VIOOLSDRIFT
AQUACADE CAMP (now Orange River Rafting Lodge)
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Reg langs die Oranjerivier en hulle is ingestel op wateravonture.  Hulle staanplekke is gelyk en goed uitgelê, maar hulle is  meer ingestel op die jonger geslag en Back Packers.  Dit is meer  boskamp as karavaanpark maar tog mooi en goed versorg.  Tilla het nie die halflyf hout -ablusieblok geniet nie, die koue wind kom jou nogal by in die stort.  Flip het dit egter heel prettig gevind.  Ons sal die park weer besoek.
Punt toegeken  -  5/10

Webwerf  -  www.aquacade.co.za

VIOOLSDRIF

The Growceryn Camp

Laaste besoek  -  2021

Kommentaar -  As jy verlang na groengras, bome en struike na jou besoek aan die Richtersveld en jou lang rit van Eksteenfontein af, is die die plek vir jou.

Pragtige groengras en baie bome en struike begroet jou as jy indraai by hierdie boskamp.  Jy kry nie maklik 'n padwa hier nie en die hele belewenis hier is naby die natuur.

Ons het op een van die oewer plotte gestaan, wat groot genoeg is om maklik drie karavane en voertuie te huisves.  Daar is ook 'n afdakkie om onder te kuier by die staanplekke, asook 'n skottelgoed opwasplek. Daar is nie warmwater by hierdie opwasse nie, maar wel 'lopende skoon water 'n lig en gewone huishoudelike kragprop.

Onthou die boskamp gevoel?  Wel die ablusieblokke sit die gevoel voort, Geen dak nie en die stortmure is losklippe tussen varkdraad en aan die manskant net halflyf deure.  Lyk so lekker bosserig, maar as die winterwindjie waai is dit redelik koel.  Die reuse stortkoppe en erg warmwater is net 'n plesier.

Hulle het ook 'n kroeg, met yskoue voggies en die eienaar gesels lekker. Ons het beslis ons tyd hier geniet en sal weer kom kuier.

Kliek hier vir Growcery  fotos

Punt toegeken  -  7/10 (Boskamp)


As u ons wil kontak, KLIEK HIER, om 'n E-Pos aan te stuur.

TERUG NA BO


 

Make a free website with Yola