Translate This Page

 NOORDWES

 BEESTEKRAAL  (naby Brits)

KOKORIBA NATUURRESERVAAT
Laaste besoek  -  2002
Kommentaar  -  Die park is op ‘n klein naruurreservaat met ‘n Bietjie kleinwild.  Fiets en staptogte word in die reservaat toegelaat.  Dit is tipiese bosveld sowat 35km van Brits.  Die park het oor ‘n 100 staanplekke en ‘n paar selfsorg huisies.  Die staanplekke is groot, meestal gelyk en daar is skadubome.  Die ablusies is goed en skoon.  Die eienaar woon op die perseel.  Die area het uiterste weer temperature – kom voorbereid.  Daar is ‘n winkel, slaghuis en drankwinkel op Beestekraal, maar bring liefs jou voorraad saam.
Die pad van Brits af is baie sleg en die grondpad na die kampplek stowwerig.  Daar word funksies aangebied, wat raserig raak – kampeer verder van die kroeg en saal as jy kan.  Die swembaddens (warm en koud), put-put baan en volleyball baan word goed onderhou.
Punt toegeken  7/10

Webwerf www.kokoriba.co.za 

BEESTEKRAAL
VAALKOPDAM NATUUR RESERVAAT
Laaste besoek  -  2002
Kommentaar  -  Slegs goed vir ‘n dagbesoek, ons sal nie hier kamp nie.
Punt toegeken  -  1/10

Webwerf www.parksnorthwest.co.za

BRITS

BOSVELD OASE

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Net oop oor naweke en skoolvakansies.

 Hierdie park is vanjaar ge-open en werklik 'n fees vir die oog.  Die gras is lower groen, die interne paaie geplavei, die ablusies modern, goed uitgele en vertoon regtig goed.  Hulle het 'n buite koue swembad en 'n onderdak warm swembad, hengel dam en 45 Ha wildtuin.  Die kantoor/winkel  is pragtig en die personeel vriendelik en behulpsaam. Selfs skadudoek parkeerplek vir die manne in die wooneenhede (7 en-suite kamereenhede). Sover byna 'n volmaakte plek.

Ongelukkig is die teerpad buite Brits in 'n baie slegte toestand - Die sowat 2Km grondpad was baie goed tydens ons besoek.  Ongelukkig is die park op hierdie stadium net naweke en skoolvakansies oop en vir ons langtermyn kampeerders dus nie van veel nut nie. Daar is 51 staanplekke en die saal en restaurant was in aanbou tydens ons besoek. Die heinings lyk goed en hulle het 24 uur sekuriteit. 

Punt toegeken  -  8/10 (net vir binne seisoen kampeerders)

Webwerf  -  www.bosveldoasebrtis.co.za

Kliek hier vir Bosveld Oase fotos

BRITS

DRIE BERGE KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  So 7 Km buite Brits op die Rashoop pad (ingang net na Wagpos Skool). Die teerpad is in 'n swak toestand, selfs vir Noordwes, maar die sowat 2Km grondpad na die oord was in 'n baie goeie toestand tydens ons besoek. Dit word deur die eienaar onderhou en is twee keer gedurende ons besoek geskraap - ons het geen probleem gehad om ons Penta hier te sleep nie.  Selfoon ontvangs is uiters swak, maar op die kantoor se stoep het hulle 'n HotSpot waar selfoonontvangs en G3 data ontvangs uitstekend is.  Ons het op staanplek 7 werklik gesukkel om 'n G3 konneksie met 'n Poynting lugdraad en Vodafone versterker te bekom.

 Die staanplekke is groot, redelik gelyk en hier is baie skadubome.  Die kamp is op die walle van die Krokodilrivier, en daar is 'n keerwal in die rivier, wat 'n lekker hengel plek skep.  Krokodille kom hier voor en mens moet maar versigtig wees.  Die swembad en tennisbaan is pragtig.  Die klein winkeltjie hou die nodigste aan, maar Brits is naby vir inkopies.  Geen musiek of geraas word toegelaat nie en hierdie reel word streng toegepas. Die kamp is op 'n werkende plaas met beeste en bokke.  Staproetes is ook op die plaas uitgemerk.  Die ablusieblokke word heeldag skoongehou en die storte se uitleg verseker dat die aantrek gedeelte droog bly.  Blok nommer twee is uitgeteel en vertoon luukser, maar ons het blok nommer een gebruik, waarvan die mure met gekleurde sement afgewerk is, en omdat dit so skoon en netjies gehou word, was ons heel beindruk gedurende stiller tye. Die ablusiegeriewe is egter ver te min oor naweke en kom glad nie die mas op in Desember nie

Die kamp is elektries omhein en hulle het snags 'n wag, ons was gelukkig met die sekuriteit.  Die ontvangsarea is in die winkeltjie en is netjies en skoon.  Die personeel is uiters vriendelik en die bestuurder het ons gereeld op ons staanplek kom besoek.

Ons sal beslis weer hier kamp  gedurende stiller tye.  Die periode tussen die 22ste Desember 2012 en Nuwe Jaar, is daar tot 7 tente op 'n staanplek opgeslaan en 4 voertuie en 2 sleepwaens is by hierdie staanplek toegelaat - sal Drie Berge beslis vermy oor hierdie periode.

Punt toegeken  -  8/10 (stil tye)  3/10 (besige tye)

Webwerf  -  www.driebergekaravaanpark.co.za

Kliek hier vir Drie Berge fotos

BRITS
HARTBEESHOEK NATUUR RESERVAAT
Laaste besoek  -  1999
Kommentaar  -   Omtrent halfpad tussen Brits en Rustenburg.  Die oord het vroeer aan ‘n staatsinstansie se personeel vereniging behoort en kostes  was nie ontsien om dit op te rig nie.  Dit het egter verwaarloos en is weer ten dele deur die huidige eienaars opgegradeer.  Die Buffelspoort dam is binne loopafstand, waar dit naweke wemel van die bote en hengelaars.  Die staanplekke is groot, redelik gelyk en sommige het skaduwee op die terrasse.  Die ablusiegeriewe is aanvaarbaar  en die terrein redelik netjies.  Hulle bied ook funksies aan  -  slaan ver weg op.  Winkels is redelik ver – bring jou voorraad saam en wees bedag op uiterste temperature
Onthou dat KOKORIBA en ATKV BUFFELSPOORT ook in hierdie omgewing is en miskien ‘n beter opsie kan wees.
Punt toegeken  -  5/10

Webwerf  -  www.caravanparks.com

2016 - Kliek hier vir kommentaar deur Lein

BRITS
KLEIN PARADYS KARAVAANPARK
Laaste besoek  -  1999
Kommentaar  -  Die park is 15 km buite Brits en is regtig ‘n groen paradys.  Die staanplekke is reg langs hulle” BASS”  dam,  met die oewerstaanplekke elk met ‘n privaat badkamer.  Sommige staanplekke het skaduwee en almal is gelyk en met gras beplant.  Die ablusiegeriewe is puik en skoon.  Daar is warm en koue swembaddes, put-put baan, tennisbaan, trampoliens, kanos, en ‘n skaakstel.
Hierdie is regtig ‘n 4 ster oord in alle opsigte, in ‘n mooi bosveld omgewing.  Die park word gesluit gedurende die wintermaande as gevolg van die koue.  Jou naaste winkels is 15km weg, bring jou voorraad en geniet die park.
Punt toegeken  -  9/10

Webwerf  www.kleinparadys.com

BRITS

ONVERWAGS WILDPLAAS EN KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2012

Kommentaar  -  Die kamp het in 2012 ge-open en dus is die skaduwee maar min.  Daar is egter 'n paar skadubome en heelwat is ook aangeplant.  Die gras op die staanplekke is dig en lowergroen. Die interne paaie was in 'n goeie toestand en redelik stofvry.  Hulle het 3 klein enkel ablusieblokkies en dan 'n gemeenskaplike blok.  Die ablusie blokke is ruim, skoon en modern (dit is natuurlik splinternuut).  Hulle het 30 staanplekke en die ablusiegeriewe behoort voldoende te wees. Hulle beplan om wasmasjiene aan te koop, maar op hierdie stadium is daar nie regtig fasiliteite om klere te was nie.

Daar is groot oop areas en 'n speelhoekie met 'n klein "splash pool". Die splash pool is egter hopeloos te klein vir die park.

Hulle het draagbare braai dromme asook mooi gemeenskaplike braais by die speelhoekie.  Die wildsplaas is redelik groot en die diere baie mak. Ons het gemaklik tot omtrent 20 meter van die bokke gekom.  Selfry wildritte word nie toegelaat nie, maar 2 wildritte per dag is by jou kampkostes ingesluit.

Die interne paaie was in 'n baie goeie toestand, asook die grondpad vanaf die Lethelebile kruising.  Beide teerpaaie, vanaf Brits of Rosslyn, was in 'n swak toestand en moet beslis nie in die donker met 'n karavaan aangepak word nie.

Die staanplekke voor die klein enkel ablusieblokkies is te klein vir 'n groter karavaan, maar die res is groot genoeg vir ons Penta.  

Dit is 'n stil bosveld wegbreek, wat goed bestuur word. Brits is jou naaste inkopie sentrum, maar neem liewer jou proviand saam - daardie Noordwes teerpaaie is bitter sleg.

Punt toegeken  -  7/10

E-Pos  -  0nverwags@bentleyslodge.co.za  

Kliek hier vir Onverwags fotos

BROEDERSTROOM
OBERON VAKANSIE OORD
Laaste besoek  -  1999
Kommentaar  -  Ons sal nie hierdie oord besoek nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

BROEDERSTROOM
ROOS SE OORD

Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  Ons sal nie hiedie oord besoek nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar maar sien www.sealine.co.za  se forum 

HARTBEESPOORT
HARTBEESPOORT VAKANSIE OORD
Laaste besoek  -  2002
Kommentaar  -  Ons sal nie hier kampeer nie.
Punt toegeken  0/10

Webwerf  www.hartbeespoortoord-resort.co.za 

KLERKSDORP

KLERKSDORPDAM OORD

Laaste besoek - 2018

Kommentaar - 'n Munisipale Oord net buite Klerksdorp.  Die staanplekke is gelyk en meestal grasbedek.  Hulle het 'n onderdak braai area, maar nie by die staanplekke nie.

Ablusiegeriewe is oud, maar was netjies en skoon tydens ons besoek.

Punt toegeken - 3/10

Kliek hier vir Klerksdorldam fotos


KLERKSDORP
FAAN MEINTJIES NATUUR RESERVAAT
Laaste besoek  -  2003
Kommentaar  -  ‘n Klein munisipale reservaat buite Klerksdorp.  Die park se staanplekke is redelik klein, nie baie gelyk nie en met min skaduwee.  Hulle is goed verspreid en redelik privaat.  Die ablusies is netjies en skoon.
Die park en reservaat vertoon netjies en ons het ons kamp daar geniet,  maar dit is reg langs die pad.  Saans gaan die hekwag en personeel huistoe – en die hek lê oop.
Ons het nog nie van enige voorvalle hier gehoor nie, maar misdaad in Noordwes is ‘n probleem.
Punt toegeken  -  3/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

LICHTENBURG

LICHTENBURG WILDTEELSENTRUM

Laaste besoek  -  2002

Kommentaar  -  Die 4500ha wildteelsentrum behoort aan Die Diertuin van Suid Afrika waar hulle baie Suid Afrikaanse wildsbokke, asook wit renosters, dwergseekoeie, herte en skaars addax teel en versprei.  Die wildspark en die skaars diere in kampe net langs die kampplek is al 'n besoek werd.

Die verblyfarea was nog in aanbou tydens ons besoek en bestaan uit groot staanplekke, sommige met privaat badkamers, en rondavels.  Ons het lekker hier gekamp en sal beslis die oord weer besoek.  Onthou net dat hierdie area bitter koud en warm kan word.  Daar is baie water hier rond, wat voëlkyk bevorder, maar ook vir goggas kan sorg in die warmer maande. Onthou jou Peacefull Sleep.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.lichtenburg.co.za  

PILANESBERG
BAKGATLA EN MAYANA KAMPE
Laaste besoek  -  2007
Kommentaar  -  Die twee parke is beide net buite die Pilanesberg Nasionale Park.  Hierdie is alby puik bestemmings met die enigste verskil dat Bakgatla se selfsorg chalets Europese en Manyana ‘n meer Afrika gevoel het.  Staanplekke is groot, gelyk en heelwat met skaduwee.  Die ablusies is modern en goed versorg.  Daar is swembaddens en speelgronde, maar die groot attraksie hier is die Wildtuin – een van die bestes, na ons mening.
Onthou die uiterste temperature in hierdie area en bring jou voorraad saam, die Pilanesberg winkel  is meer op snuistery en buitelandse besoekers gerig.  Punt toegeken  -  8/10

Webwerf  -  www.goldenleopardresorts.co.za 

POTCHEFSTROOM

DROSTDY OORNAGKAMERS & KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2018

Kommentaar  -  Hierdie is net 'n oornag stop en nie 'n vakansie-oord nie.  Sal ook goed werk as jy besigheid het om in Potchefstroom af te handel. Die park is op 'n kleinhoewe oos van die dorp op die N12. Die sowat 200m gruispad is in 'n baie goeie toestand.

Die staanplekke is so gelyk dat ons net kon stilhou, sonder om af te haak, en die karavaan was perfek gelyk. Die staanplekke is grasbedek en die kragpunte naby.  Hier is net een kraan en asdrom beskikbaar.

Die ablusieblok het twee toilette en twee storte aan weerskante.  Dit is nie luuks nie, maar was silwerskoon en in 'n werkende toestand.  Warmwater kom van 'n elektriese geyser en hulle het hulle eie water van 'n boorgat af.

Die eienaar woon op die perseel en hou duidelik sy hand op alles.  Hy was ook baie vriendelik en behulpsaam.

Punt toegeken  4/10

Kliek hier vir Drosdy fotos

RUSTENBURG

ATKV  BUFFELSPOORT
Laaste besoek  -  1999
Kommentaar  -  ‘n Oord volgens ATKV standaarde tussen Brits en Rustenburg.  Dit is ‘n groot oord met groot, gelyk en skaduwee staanplekke.  Sommige het skadudoek- dakke wat jou karavaan baie koeler hou,  maar wees versigtig, die dakke is nie almal hoog genoeg vir ‘n voldakkaravaan nie.
Die park is goed uitgelê en vertoon pragtig en groen.  Daar is warm en koue swembaddens, put-put baan,muurbal, volleyball en muurbalbane.  Vermaak word ook vir die kinders gereël.
Daar is ‘n klein winkel in die park, maar jou naaste beter winkels is in Mooinooi (7km) of Brits.  Die park is baie naby die Buffelspoortdam en ook binne bereik van Pilanesberg Nasionale Park.
Sekuriteit is goed, maar hou nie ape uit nie,  Hulle is astrant en sal enige kos wat hulle sien of ruik steel. Let ook op die uiterste temperature in die gebied.  Die park word druk besoek en soos in alle ATKV oorde,  hou ons nie van die gedruis nie.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.atkvbuffelspoort.caravanparks.co.za

VENTERSDORP

KLUB AMIGOS

Laaste besoek  -  2013

Kommentaar  -  Langs die Rietvleidam so 16 Km buite Ventersdorp, waarvan die laaste 1.6 Km 'n goeie grondpad is.  Pasop net vir die spoedbeheer slote in die pad - dit is 'n regte pyn iewers.

Die park le op die oewer van die dam en strek oor byna 2Km waterfront. Dit is in 3 dele ontwikkel, A,B en C en elk het 'n eie karakter.  Die A gedeelte is meer luuks. Daar is twee ablusieblokke, die staanplekke is op terrasse en redelik gelyk. Die winkel, kantoor, swembad, bootsleephelling, buite skaakstel, jukskeibaan, trampolien en waterglybaan is hier gelee. Hier is ook 5 vakansiehuise te huur. Die interne paaie hier is ook van sement en die staanplekke redelik grasbedek.  Skadu- en volsonstaanplekke is beskikbaar.  Maak seker jy kry 'n oewer staanplek hier.  As jy agtertoe kamp moet jy oor iemand se staanplek loop om by die water te kom.  Hierdie gedeelte het blykbaar die swakste hengel kans en is ook naaste aan die aangrensende bootklub met sy geraas.  Daar is min ligte in die kamp, krane en vuilgoed blikke is ook maar skaars.  Die ablusie blokke is bietjie donker en somber, maar was skoon en netjies gehou tydens ons besoek.  Hulle voorsien nie toiletpapier of wasbak-/badproppe nie.  Dit was ook teleurstellend dat talle ligte in al die ablusieblokke buite werking was en nie tydens ons besoek herstel of vervang is nie.  Hier was gereelde kragonderbrekings, maar hulle kragopwekker het gou-gou ingeskop en krag aan die hele park voorsien.

Die B Blok is meer op die hengelaars gerig. Die staanplekke is lank en nou, met almal op die oewer van die dam.  Die staanplekke is meestal groot genoeg vir twee karavane!!  Almal is egter skuins af dam se kant toe.  Hier was baie kampeerders oor die naweke en dit het gewemel van aasbootjies en roeibootjies.  Hier word geen motorbote toegelaat nie.  Die enkele ablusieblok was skoon en netjies, maar weereens donker.  

Die C Blok is vir die hardebaarde. Die staanplekke is teen die water, maar die enigste gerief hier is 'n braaiplek.  Geen water, krag of ablusiegeriewe nie.  Die is dan ook die verste punt van die kamp.  Ons het hier en ook verder op na die dam se inloop baie voels en barbers in die water teegekom. Jy mag nie oor die grensdrade klim nie, maar dit is beslis die moeite werd om hierdie gedeelte met 'n bootjie te besoek.

Om op se som, nie 'n foutelose kamp nie, maar ons het vir twee dae bespreek en toe tien dae gebly.  Vir die hengelaar 'n moet om te besoek, veral as jy die barbers by die inloop van die dam gaan soek.

Punt toegeken  -  6/10

Webwerf  - wwwhttp://www.boereplaas.co.za

Kliek hier vir Klub Amigos fotos

VRYBURG

BOEREPLAAS OORD

Ons het net oornag en vergeet om ons normale oorsig te skryf.

Ons sal weer hierheen teruggaan om die nodige te doen.




  As u ons wil kontak, KLIEK HIER, om 'n E-Pos aan te stuur.

 KLIEK HIER OM NA DIE BEGIN VAN DIE BLAAI TE GAAN


 

Translate This Page

Make a free website with Yola