Translate This Page

VRYSTAAT

ALIWAL NOORD

THE NEST

 Sien ons kommentaar onder die Ooskaap.

 BLOEMFONTEIN

REYNEKE PARK
Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  Hierdie is ‘n goeie oornag stop en ons be-oordeel  dit as sulks.
Die park is op ‘n kleinhoewe buite Bloemfontein.  Die staanplekke is gelyk, het grasbedekking maar geen skaduwee nie.  Sommige het privaat -badkamers en ons beveel hierdie aan.  Die oord het ook selfsorgeenhede, ‘n saal en kroeg.  Dit kan soms raserig word.  Sekutiteit in die kamp is goed.
Punt toegeken  -  5/10

Kliek hier vir Reynekepark fotos

Webwerf  -  www.reynekepark.co.za

BLOEMFONTEIN
TOM’S PLACE
Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  Ons sal nie hier kamp nie, maar het wel in die selfsorg- eenhede oornag.  Dit is gerieflik langs die N1.
Punt toegeken vir kampering  -  0/10

Webwerf  -  www.tomsplaceresort.co.za 

CLARENS
GOLDEN GATE NASIONALE PARK
Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  Ons was lankgelede hier en weet dat verbeterings aangebring is.  Die enigste negatiewe ding hier is die verkeer wat teen die kamp verby beweeg,  maar dit is ‘n MOET SIEN gebied.  Die omgewing is van die mooiste in die land.  Kampeer hier en bring jou stapskoene.
Die staanplekke is redelik gelyk en daar is baie bome.  Die ablusiegeriewe is ‘n paar jaar gelede herbou en ons kan nie hierop kommentaar lewer nie.
Bring jou voorraad – dis in die boendoes-en onthou die uiterste temperature hier.
Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.sanparks.org

COLESBERG

ONZE RUST GUESTHOUSE & CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2014

Kommentaar  -  Sien onder Noordkaap. 

DENEYSVILLE

DENEYSVILLE WATERSPORTKLUB KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Die klub huur die perseel van die munisipaliteit en wil of kan nie kapitaal hier belê nie, want die ablusiegeriewe is nie vir ons aanvaarbaar nie.

Ons sal dus nie hier kamp nie.

Punt toegeken  0/10

Kliek hier vir Deneysville Watersport fotos

DENEYSVILLE

VAALBAY RESORT & CHALETS

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar - Mooi plat terrein en grasbedek. Lyk redelik veilig met 'n elektriese heining reg rondom. Met die huidige watervlak (Maart 2019) is die water so 'n honderd meter van die hek af.

Skaduwee is skraps en so ook krane. Staanplekke is nie afgemerk nie. Die Oord was leeg tydens ons besoek, maar die ablusieblok silwerskoon. 

Hulle het ook chalets wat tussen die dam en die karavaanpark beleë is. Hulle is klein maar netjies - regtig goed vir 'n naweek.  Die swembad was netjies en helderblou.  Ons was buiteseisoen op 'n Maandag hier en alles was toe en verlate, maar die plek het nogtans 'n goeie indruk op ons gemaak.

Die naaste winkel is op Denesville, so 14Km ver.  Hulle het twee kruidenierswinkels met baie voorraad tydens ons besoek.

Die pad net buite Deneysville is vir 'n kort entjie vol slaggate - wees versigtig.

Punt toegeken  -  5/10

Kliek hier vir Vaalbay fotos

Tel - 082 683 2855 / 083 375 4706


FICKSBURG

MEULSTROOM KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Reg langs die Meulendrifdam so 5Km buite Ficksburg.  Ons het nie hier gekamp nie, maar slegs die park op 'n Sondag middag besoek. Alles was netjies en skoon en het as geheel 'n baie goeie indruk gemaak.  Daar is baie bome, groen gras en natuurlik die dam vir watersport.  Daar is ook 'n staproete wat in die park begin.  Staanplekke is redelik groot, maar daar is 'n taamlike helling af na die rivier toe.  Daar is ook 'n piekniek area tussen die dam en karavaanpark.  Die ablusies is oud, maar was silwer skoon en redelik netjies.  Hier en daar was daar reperasies nodig.  Gaan kyk na ons FOTOS en oordeel self.

Ons het egter twee probleme met die kamp.  Eerstens sal ons nie graag ons Penta op die toegangspad wil sleep nie en tweedens is die sekuriteit swak.

As die dam meer water in het, die plek in 'n groep besoek word en kleiner karavane geseep word, kan hierdie egter 'n baie lekker naweekwegbreek wees.

Punt toegeken  -  4/10

Kliek hier vir Meulstroom fotos

FICKSBURG

SANDSTONE ESTATES KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Let daarop dat hierdie karavaanpark eintlik net oop is gedurende die eeste twee weke van April jaarliks, wanneer hulle hul groot stoomfees aanbied.   U kan hulle egter kontak om moontlik ook op ander tye hier te kamp - u sal heel moontlik dan die enigste kampeerders wees.

Kliek hier vir Sandstone fotos

FICKSBURG

THOMPARK KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Ons het nie en sal ook nie lank hier kamp nie.  Dit is 'n munisipale park, wat eintlik nie in 'n te slegte toestand is nie.  Kyk gerus na die fotos op ons Picasa Albums en oordeel self.  

Kliek hier vir Thompark fotos

Punt toegeken  -  1/10

FOURIESBURG

UITHOEK NATURE PARK

Laaste besoek  -  2020

Kommentaar  -  Hierdie is 'n redelik nuwe karavaanpark en die ablusies is dus modern en netjies. Die 50 staanplekke is gelyk en grasbedek, met heelwat bome. Hier is ook drie chalets beskikbaar.

'n Swembad en lapa is beskikbaar vir lekker kuiers. Los braaiers is ook beskikbaar. Die klein winkeltjie verkoop braaihout en koeldranke. 

Die pragtige Oos Vrystaat omring jou en maak dus die wildritte nog meer interessant.  Heelwat voëls kom ook hier voor.

Punt toegeken  -  7/10

Kliek hier vir Uithoek fotos

 GARIEP DAM

FOREVER RESORT GARIEP 

Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  By die wal van die Gariep dam en regtig mooi.  Jy kan teen die water kamp, of verder terug by staanplekke met privaat ablusies.  Alles hier word goed onderhou en is skoon.  Die staanplekke is redelik groot en taamlik gelyk met heelwat bome. Gras is maar skraps onder die bome. Daar is winkels in die dorpie, maar moet nie te veel verwag nie.
Dit is ‘n populêre naweek- oord en dan kan die bote en mense redelik raas – midweek is dit rustig.

BESOEK 2015

Die dorpie het nou 'n groot OK Grocer met drankwinkel, hardewaardewinkel en buitelugwinkel, waar jy regtig alles kan bekom. Hier is ook 'n restaurant, bly en kampplek en op sommige dae 'n mediese

dokter by winkelkompleks.

Niks het regtig in die kampterrein verander nie.  Alles word goed onderhou en is skoon en netjies. Die restaurant is beslis 'n besoek werd met 'n redelike spyskaart.

Watersport is natuurlik koning hier, veral as die dam redelik vol is. Dan hengel jy van jou voorstoep en maak jou boot ook sommer daar vas.

Punt toegeken  -  6/10

Webwerf  -  www.forevergariep.co.za

Kliek hier vir Forever Resorts Gariep

GARIEP

GARIEP NATURE RESERVE CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Hierdie Park is in die Natuurreservaat en moet nie met die groot Forever Resort verwar word nie.

Net eers iets oor die Natuurreservaat: Die le tussen die Gariepdam en die Bethuliepad.  Groot grasvlaktes tussen die water en die heuwels aan die anderkant.  Hier is regtig baie wildsbokke, maar.....  Wild is hulle wild. Jou voertuig is nog sommer 'n kilometer ver weg, dan nael hulle oopketel.  Ons kon nooit nader as so 500m van hulle kom nie.  Ons is oortuig dat hier uit voetuie gejag word en die plek is dus niks werd vir wildbesigtiging nie.

Die kamp is 'n ander storie! So 3Km goeie grondpad bring jou by die Kamp, wat aan drie kante deur water begrens word, met mooi heuwels in die agtergrond.  Die staanplekke is gelyk, grasbedek en elkeen het 'n braai en tafel.  Elektriese punte word toegesluit en jy kry toegang tot krag teen R100.00 per dag. Kyk gerus na die fotos vir die unieke braais en ook die uitsig.

Die ablusiegeriewe was skoon, netjies en alles het gewerk, maar is baie sleg ontwerp - geen neersit-, hangplek of droee area nie.

Beslis nie 'n slegte kamp nie, maar fasiliteite by die naburige Forever Resort

is beter.

Punt toegeken  -  4/10

Kliek hier vir Gariep Natuurreservaat fotos


HARRISMITH

MOUNTAIN VIEW INN

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Net agter die 1 Stop Engen kompleks buite Harrismith.  Hier is ook 'n hotel en 'n paar kitskosrestaurante.

Die area is gelyk met heelwat skaduwee en het 'n sekuriteitsheining, maar die hekke het oopgele tydens ons besoek.  Die ablusieblok lyk maar treurig van buite, maar binne was alles netjies, modern en skoon.  Elektriesetoevoer was goed en het reg getoets.   Beide blou en huishoudelike proppe is beskikbaar. Die hoofpad loop baie na aan die kamp en padgeraas pla bietjie.

Ons beskou dit egter as 'n baie goeie oornag stop.

Punt toegeken  -  5/10


HARRISMITH

PRESIDENT BRAND KARAVAAN PARK
Laaste besoek  -  2007
Kommentaar  -  Ons sal nie hier kampeer nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  Nie beskikbaar 

HARRISMITH

PRINGLES BERGVIEW KARAVAAN PARk

(Nou bekend as MOUNTAINVIEW INN)

Laaste besoek  -  2007

Kommentaar  -  Ons het net een nag hier oorgeslaap en die oord heel goed gevind. Dit was skoon, netjies en die ablusieblok goed. Die park is op die hoofweg by die garage en winkels aan die linkerkant as jy in Durban se rigting ry.  Die ingang is nie goed gemerk nie  -  kyk mooi.  Dit is 'n veel beter opsie as om agter die volgende garage tussen die vragmotors te slaap.

Hier is 'n paar naaldbome vir skaduwee.  Die staanplekke is nie uitgemerk nie - kamp naby 'n kragprop.  Die kampplek is nie gelyk nie, maar ons kon

die Penta maklik met 'n geelblok gelyk kry en het nie afgehaak nie.

Vir die mense wat baie lig slaap - die hoofweg (N5) is baie naby!!

Punt toegeken  -  5/10

E-Pos  mountainview@mighty.co.za  Tel  058 623 0255

 Tweede besoek 2015  -  Geen veranderings nie, maar steeds die beter opsie vir oornag kampering in Harrismith.

Kliek hier vir Mountain View Inn fotos

HARRISMITH

STERKFONTEINDAM NATUURRESERVAAT

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -

Kliek hier vir Sterkfontein fotos

KROONSTAD
KROONPARK VAKANSIE OORD
Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  Ons sal nie weer hierdie park besoek nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.kroonstadtourism.co.za 

LADYBRAND
LELIEHOEK OORD  Nou LITTLE ROCK RESORT
Laaste besoek  -  1998
Kommentaar  -  Ons sal nie weer hierdie park besoek nie.

Besoek 2015

Die Oord het nuwe eienaars en ons besluit om tog weer 'n draai hier te maak en wat 'n verrassing! Die terrein is pragtig netjies en skoon, die personeel vriendelik en alles werk.  Hier is so 30+ staanplekke op 'n baie groot terrein van etlike hektare, waarvan 'n groot deel bebos is, maar ook groot grasperke het vir ontspanning. Die park is op die rand van Ladybrand, maar jy hoor geen dorpsgeraas en hier is ook geen deurloop of verkeer nie. Lekker stil en rustig.

Die staanplekke is nie duidelik uitgemerk nie, maar die totale area groot; behoort nie 'n probleem te skep nie.  Meeste staanplekke is redelik gelyk, hier is baie groot ou bome wat mooi digte skadu bied.  Die gras was groen en lekker dig tydens ons besoek so net voor die winter, maar daar is wel 'n paar sandkolle onder die bome.  Hier is net 'n paar staanplekke met geboude braais, maar hulle het ook 'n paar halwe dromme, wat goed werk. Krane en ligte is maar skraps.

Hulle het wel toegangsbeheer by die hek, maar die grensdrade is nie veilig nie.  Ons het van geen misdaadprobleme hier gehoor nie en het ook nie enige probleme ondervind nie.

Die ablusieblok is bitter oud, maar die dameskant is in 'n goeie toestand en was skoon tydens ons besoek.  Die manskant is nie heeltemal op standaard nie, maar was gereeld skoongemaak.

Een van die min parke waar die blou kragpunte volgens regulasies 'n meter bo die grond is, en het ook reggetoets vir polarisasie en aardlekkasie.  Die kraglesing in ons wa was egter net 208V en die mikrogolfoond het maar gesukkel en gaan staan toe ons 'n ketel aanskakel - wees versigtig om nie te veel goed tesame aan te skakel nie.

Ons kan die park aanbeveel vir 'n oornagstop.

Punt toegeken  -  0/10   (2015  5/10)

Webwerf  -  Nie beskikbaar

Kliek hier vir Little Rock fotos

ORANJEVILLE

MIHANZI ESTATE CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Die Park is 'n paar kilometer buite Oranjeville en die laaste +/- 4Km is 'n grondpad wat in 'n redelike toestand was tydens ons besoek. In droë toestande kan 'n padwa met gemak hier kom, maar ons sal nie ons Penta hierheen sleep as die pad nat is nie.

Die Park is op die oewer van die Vaaldam en hengel is hier koning.  Die Park bestaan uit twee afsonderlike afdelings; die regs van die kantoor is 'n boskampagtige park met geen gras of enige fasiliteite nie. Links van die kantoor is staanplekke grasbedek, het water, elektrisiteit en ruwe ablusiegeriewe.  Kragpunte en krane is so 50m van die waterkant (Maart 2019), maar sal natuurlik wissel soos die dam se inhoud wissel.  Die punt is egter  dat jy 'n baie lang elektriesekoord moet bring as jy by die water wil kamp. Elke twee staanplekke deel 'n kraan.

Die hele area bo die watermerk is grasbedek en was netjies en skoon tydens ons besoek.  Die ablusiegeriewe is baie basies, min en afhangende waar jy staan, 'n dagreis te perd ver.  Dit was egter silwerskoon en netjies.

Die kantoor verkoop ook so 'n paar noodsaaklikhede, maar die winkeltjies op Oranjeville kan basiese noodsaaklikhede aanvul.

Die Park fokus sekerlik op hengelaars, en as sulks is dit puik, maar ons sal nie dit regtig as 'n langtermyn bestemming sien nie. 

Ons het nie die kragtoevoer getoets nie, maar alles kyk goed.  Daar is 'n kennisgewingsbord was sê dat net energiebesparings-gloeilampe en geen kolligte gebruik mag word nie.  Musiek is ook verbode.

Punt toegeken  -  6/10 ( Hengeloord)

Tel 011 070 8717

Kliek hier vir Mihanzi fotos

ORANJEVILLE

ORANJEVILLE HOLIDAY RESORT

Laaste besoek  -  2019

Kommentaar  -  Ons besoek die Oord oor 'n naweek gedurende die Maart skoolvakansie en..... net 4 kampeerders. Ongelooflik.

Die Oord is op die buitewyke van Oranjeville, op die oewer van die Vaaldam en behoort 'n watersport mekka te wees.  Daar is wel 'n paar tekortkominge, maar ons het regtig 'n beter besetting verwag.

Die Oord is op 'n baie groot stuk grond geleë, wat grasbedek is en baie netjies en skoon was tydens ons besoek.  Die staanplekke is teen die waterkant, grabedek en met 'n effense helling na die warerkant.  Elektriese punte is aan die anderkant van die interne pad en lyk goed, maar ons het nie die toevoer getoets nie.

Die twee ablusieblokke en swembad is splinternuut en van der beste, maar redelk ver van die waterkant, waar meeste kampeerders sal staan. Ongelukkig is dit sekerlik so om vloedskade te verhoed.

Dan die grootse probleem, is dat kraanwater net by die ablusieblok beskikbaar is. Ons hoop regtig dat dit in die toekoms aangespreek sal word. Intussen moet jy maar 'n groot waterkan saambring.

Die kantoor is so 120m van die hek af en het ook 'n snoepie wat 'n paar noodsaaklikhede aanhou.  Die dorpie se winkels en eetplekke is baie naby en jy sal sekerlik hier geholpe kan raak.

Vir watersport entoesiaste kan hierdie regtig 'n eindbestemming wees.

Punt toegeken  -  5/10

Kliek hier vir Oranjeville fotos

PARYS

EASTCO VAKANSIE-OORD

Laaste besoek - 

Kommentaar -

Kliek hier vir Eastco fotos


PARYS
GREYSTOKE ADVENTURES
Laaste besoek  -  2006
Kommentaar  -  Ons sal nie weer hierdie park besoek  nie.
Punt toegeken  -  0/10

Webwerf  -  www.greystoke.co.za

SENEKAL

OBERAMMERGAU

Laaste besoek  - 2015

Kommentaar  -  Hierdie in nie 'n vakansie-area nie en ons be-oordeel ook dan net die kamp as 'n oornag fasiliteit.

Dit is in die dorp gelee, reg teen die N5 - ligte slapers neem kennis.  Hulle het 'n afstandbeheerde hek, maar die omheining is geensins bedoel om mense uit te hou nie - liewers om die kapokkies en hasies, wat los loop, in te hou.   Ons het egter nog nooit van enige misdaadvoorvalle in die kamp gehoor nie .

Die eienaar woon op die perseel en alles is netjies, goed onderhou en skoon. Die kampterrein is redelik gelyk en grasbedek (vergeel in die winter), maar die staanplekke is nie uitgemerk nie.  Dit pas ons by oornag kampe, want dan hoef ons nie af te haak nie.   Die ablusieblok is eenvoudig, maar die skoonste wat ons nog tot op datum raakgekamp het.  Alles is skitter blink, selfs die wit dreinpype buite is wit en skoon.  Die dames het 'n bad; die mans slegs storte.  Storte is groot genoeg en het hang- en neersitplek.  Die stortgordyn het die droee area goed beskerm.  Warm water was voldoende. Alle krane, storte, wasbakke en ligte het gewerk.

Daar is wel 'n paar permanente kampeerders, maar dit het glad nie gepla nie - hulle kampareas het maar soos gewone vakansiegangers  se opsette gelyk - geen pakkaaste nie.

Ons het goed hier oornag en sal beslis weer so doen.

Punt toegeken  -  7/10 (Net vir oornag)

Kliek hier vir Oberamagau fotos

TROMPSBURG

TROMPSBURG KARAVAANPARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Die park was verlate en verwaarloos (April 2015) toe ons wou gaan navraag doen oor staanplek.  Ons het hulle telefoonnommer geskakel, maar dit bestaan blykbaar nie meer nie.

Ons kan dus net aanneem dat die plek nie meer oop is nie.

Punt toegeken  -  0/10

VENTERSDORP

ALDAM VAKANSIE-OORD

Laaste besoek  -  2020

Kommentaar  -  Hier is 150 staanplekke en meer as 80 wooneenhede.  Die terrein is baie groot met fasiliteite vir tennis, netbal, "put-put, jukskei, wanderpaaie, en bergfietsroete en watersport.  Gedurende die besige tye het hulle ook 'n snoepie, restaurant en kroeg.

Die wooneenhede is meestal teen die rantjie, met 'n uitsig oor die dam.  Die karavaanpark is onder op die vlakte en redelik naby aan die water as die dan vol is.  Hierdie area het 'n effense helling na die dam toe, net genoeg dat die reenwater nie om jou tent opdam nie.  Elkeen het 'n braai en krane is goed versprei.  Hier is baie bome, maar tydens ons winter besoek natuurlik blaarloos.

Watersport en hengel is beslis hier koning. Bring die nodige.  Fietse is 'n moet vir die jongspan.

Die bestuur was nog besig om die Oord reg te kry na die nasionale inperking, maar was so vriendelik om ons vir 'n nag te laat oorbly. Baie vriendelike mense.

Punt toegeken  -  7/10

Webwerf  -  www.aldamestate.co.za

Tel  -  057 652 2200

Kliek hier vir Aldam fotos

WINBURG

DANKE SCHON GUEST HOUSE & CARAVAN PARK

Laaste besoek  -  2015

Kommentaar  -  Hierdie is beslis 'n aantreklike oornag opsie.  Die dorp is effe weg van die N1 en N5 en die besige verkeer pla dus nie regtig nie. Die park is in die dorp by die eienaars, Pieter en Brunhilde se huis.  Hulle het 6 staanplekke met eie geriewe, asook 7 oornag chalets.  Ons het toevallig op die plek afgekom - hulle naam kom nie in ons boeke voor nie, maar hulle webtuiste is heel oulik.

Webwerf  -  www.dankeschon.co.za

Tel  -  051 881 0292/082 776 7768

Punt toegeken  -  7/10

  As u ons wil kontak, KLIEK HIER, om 'n E-Pos aan te stuur.

KLIEK HIER OM NA HEEL BO TE GAAN

 

Make a free website with Yola